Naweekpaaie bly gevaarlik
Naweekpaaie bly gevaarlik

Naweekpaaie bly gevaarlik

Augetto Graig
Namibiese paaie het die naweek opnuut lewens geëis.

Sowat agt kilometer buite Rehoboth, op die pad na Bahnhoff-stasie, het mnr. Louks Erasmus Shanjengange (31) net voor ses Sondagoggend beheer oor sy voertuig verloor, die pad verlaat en teen ’n boom gebots. Hy was alleen in die voertuig en is op slag dood, volgens die polisieverslag. Sy familie is reeds ingelig.

• Die polisie het bevestig dat vlamme uitgebars het nadat ’n dubbelkajuitbakkie tussen Omuthiya en Ondangwa teen ’n bierlorrie vasgery het. Die voorval het Sondag ongeveer 07:45 op die B1-hoofpad naby Onalunike gebeur. Die vragmotor se kajuit en voorste sleepwa het weens die kop-teen-kopbotsing aan die brand geslaan. Die bestuurder van die vragmotor, mnr. Nathanael Nghipangelwa, is volgens die polisieverslag ongedeerd, terwyl die bakkie se bestuurder, mnr. Nghipangelwa Ndatungaeumbo (51), op die toneel dood is.

• Ander ongelukke wat in die sosiale media aangemeld is, maar nog nie deur polisiebronne bevestig is nie, sluit in die botsing tussen twee vragmotors op die B1-hoofpad vanaf Okahandja se afdraai na Otjiwarongo.

Nog ’n voertuig het op pad na Mariental, sowat 10 km buite Kalkrand, omgeslaan en die insittendes is beseer. Net 10 km buite Windhoek, op pad na die Internasionale Lughawe Hosea Kutako, het ’n voertuig ’n koedoe gestamp. Gelukkig was die koedoe, wie se horings binne die voertuig vasgevang is, die enigste ongeval van die botsing.

Ná 22:00 Saterdag was daar ’n hewige slag in Hosea Kutako rylaan, naby Harveystraat in die hoofstad, waarin ’n sedanvoertuig se hele enjin en voorkant morsaf gesny is en oor die pad tot in die ander baan gegooi het. Drie mense is beseer.

Dieselfde aand het ’n vragmotor sowat 30 km buite Oshivelo vanaf Tsumeb omgeslaan. Die bestuurder is vir behandeling na die hospitaal geneem.


FOTO
Die noodlottige ongelukstoneel op die Bahnhoff-pad naby Rehoboth waarin mnr. Louks Erasmus Shanjengange te sterwe gekom het. Foto verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!