NBC kry grootste hap van begroting
Henriette Lamprecht - Die beleërde nasionale uitsaaier NBC kry N$338 miljoen van die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie (ICT) se totale begroting van N$526,3 miljoen. Die Namibiese Persagentskap (Nampa) se deel is N$20 miljoen, terwyl New Era N$10 miljoen en die Southern Times N$5,5 miljoen kry.
Volgens die minister van dié ministerie, dr. Peya Mushelenga, het die uitbreking van Covid-19 die nuwe strategie om van die huis af te werk, die kardinale belang van inligting- en kommunikasietegnologie vir besighede beklemtoon om noodsaaklike dienste aan kliënte te lewer.
“Skole en instellings vir hoër onderrig het van tradisionele onderrigmetodes na aanlyn onderrig geskuif wat die ‘nuwe normaal’ vir die toekoms kan wees. Radio, televisie, tegnologie en toegang tot die internet is dikwels as vanselfsprekend aanvaar, maar het nou in hierdie uitdagende tye hul belangrikheid en toepaslikheid gewys,” het hy gesê.
Mushelenga het verwys na veral die rol wat sosiale media speel en die voerband wat dit vir die verspreiding van fopnuus kan wees.
Laasgenoemde het grootliks tot die vestiging van die Covid-19-kommunikasiesentrum (CCC) in Windhoek gelei wat eerstehandse inligting oor die pandemie versprei.
Volgens die minister is N$9,3 miljoen vir die ontwikkeling van ICT’s geoormerk. Dié program fokus onder meer op die formulering en evaluering van ICT-beleidsrigtings en -wette. Dit koördineer ook die ontwikkeling van ICT-infrastruktuur in die land.
Onder die vaandel van dié program wil die ministerie ook verseker die wet vir kubermisdaad en databeskerming word later vanjaar ter tafel gelê. Die ministerie wil ook die nasionale strategie en bewusmakingsplan vir kuberveiligheid finaliseer.
Volgens Mushelenga sal ’n raadgewende raad ook vir die bestuur van elektroniese inligtingstelsels op die been gebring word om die implementering van die wet vir elektroniese transaksies te verseker. Die gewysigde kommunikasiewet sal in die huidige finansiële jaar gefinaliseer en ter tafel gelê word.
“Die huidige pandemie het ons meer as ooit daaraan herinner om pogings te verdubbel om meer in ICT-infrastruktuur en -dienste te belê om hoëspoed internettoegang te verskaf en te verseker.”
Vir gedrukte media het die ministerie N$25 miljoen begroot vir die “tydige verspreiding van inligting aan die publiek oor die regering se programme, planne en inisiatiewe”.
Volgens Mushelenga is Namibië se eerste posisie in Afrika en nr. 23 in die wêreld volgens die persvryheidsindeks ’n bewys van die waarde wat die regering heg aan persvryheid en vryheid van spraak. In die lig hiervan gaan die wet vir die toegang tot inligting ook ter tafel gelê word om deursigtigheid en verantwoordbaarheid deur staatsinstellings te bevorder.
Audio-visuele media en die ministerie se streekkantore kry N$43,4 miljoen en die Namibiese Filmkommissie (NFC) N$3 miljoen. Volgens Mushelenga is Namibiese deelname aan wêreldfeeste en expo’s noodsaaklik om direkte buitelandse belegging te verseker. Vir die konstruksie van die ministerie se streekkantore op Nkurenkuru in Kavango-Wes en Katima Mulilo in die Zambezistreek is N$27,5 miljoen begroot. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie