NBC skuld Huawei meer as N$78 miljoen
NBC skuld Huawei meer as N$78 miljoen

NBC skuld Huawei meer as N$78 miljoen

Die minister van inligting en kommunikasietegnologie het in die Nasionale Vergadering besonderhede verstrek oor die vertraging in die NBC se oorskakeling na ''n nuwe stelsel.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Die Namibiese Uitsaaikorporasie (NBC) skuld die maatskappy Huawei N$78 361 396 vir FM- en TV-seintoestelle wat vervaardig en afgelewer, maar nog nie betaal is nie.
Hierbenewens het die NBC 20 000 dekodeerders ter waarde van N$29 887 200 bestel waarvan die helfte in die 2016-’17-boekjaar betaal moet word en die res in die 2017-’18-boekjaar. Vervaardiging van die dekodeerders kan nie begin alvorens die betaling gedoen is nie.
Die inligting is deur die minister van inligting en kommunikasietegnologie, mnr. Tjekero Tweya, verskaf toe hy in die Nasionale Vergadering vrae van mnr. Mike Kavekotora van die Rally for Democracy and Progress (RDP) beantwoord het.
Tweya het verduidelik die kontrak tussen die NBC en Huawei wat in 2011 opgestel is, het oor ’n vyf jaar tydperk gestrek, wat in vier fases verdeel is, om van die ou analoogstelsel na ’n digitale stelsel oor te skakel. Dit het ten doel om die TV-dekking in die land van 59 persent tot 92,8 persent uit te brei.
Hy sê in die eerste fase van die projek, waarvan die sperdatum Junie 2015 was, is die teiken van 66 persent dekking oorskry. In die laaste deel van die projek moes die NBC die uitbreiding van die projek weens finansiële beperkinge as gevolg van die regering se bestedingsbesnoeiing vertraag.
“In die 2017-’18-boekjaar sal die NBC Huawei N$7 207 013 vir TV- en FM-seintoestelle, antennas en toerusting vir regstreekse uitsendings skuld. Die toerusting is reeds vervaardig, maar moet nog betaal word alvorens dit gelewer kan word,” het hy gesê.
Die eskalasie in die wisselkoers het die NBC se vermoë om die projek af te handel negatief beïnvloed.
Tweya skryf die tekort aan dekodeerders ook toe aan die tekort aan kapitaal. Dekodeerders wat reeds bestel is, kan nie betaal word nie.
Hy wys wel daarop ’n onlangse ooreenkoms tussen die NBC en MultiChoice het meegebring dat Namibiërs toegang tot NBC-TV-programme deur GOtv het.
Gegewe die finansiële tekorte en ’n tekort aan dekodeerders het die NBC ook die afskakeling van nuwe analoogsenders gestaak.
Hy sê die NBC het aanvanklik geld van die regering ontvang om 80 000 dekodeerders aan te skaf, maar ná die algemene inkorting in regeringsbesteding is die ministerie nie in staat om die NBC van die nodige geld te voorsien om die volgende besending dekodeerders te koop nie. Hy wys daarop dat die ware koste van een dekodeerder N$1 500 beloop terwyl dit teen N$199 verkoop word. ’n Spesifieke groep, soos bejaardes, veterane en mense met gestremdheid, kan dit teen N$99 koop.
“Vanweë die verswakkende wisselkoers het die koste sedertdien verdubbel. Dit is baie duidelik dat die inkomste uit verkope heeltemal onvoldoende vir die aankoop van die volgende besending dekodeerders is,” het Tweya gesê.
Omdat die NBC net in sewe dorpe in Namibië kantore het, is die onderneming MobiPay gekontrakteer om elders in die land die verkope te behartig. MobiPay het ook ’n oproepsentrum oor die digitale ver¬skuiwing namens die NBC behartig waarvoor hy betaal is. MobiPay het vir die duur van die kontrak 31 426 dekodeerders verkoop.
Hiervoor het die NBC die maat¬skappy N$2 800 894 betaal, wat N$84 875.60 per maand oor ’n tydperk van 33 maande was, het Tweya gesê.
Die kontrak het verstryk en voortaan sal die verkope van dekodeerders deur NamPost behartig word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!