NBC sny dienste
NBC sny dienste

NBC sny dienste

Die platsak nasionale uitsaaier doen drastiese stappe om te oorleef.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die nasionale uitsaaier (NBC) is weens 'n geldtekort teen die toue.

Mnr. Sven Thieme, die NBC se raadsvoorsitter, het gister aangekondig uitsaaitye gaan drasties kortgeknip word.

Ander besuinigingsmaatreëls sal ook ingestel word.

Volgens mnr. Stanley Similo, die uitsaaier se direkteur-generaal, kan uitsaaitye van vandag af, of binne die volgende paar dae, reeds tot tussen 07:00 en 21:00 beperk word.

Die regstreekse uitsending van vanaand se Brave Warriors-sokkerwedstryd teen Eritrea in Katutura is een van die eerste slagoffers.

Thieme het gesê die raad sal nie vergader tot die huidige krisis opgelos is nie.

TV-nuusuitsendings sal slegs een keer 'n dag in Engels voortgaan en TV-nuus in inheemse tale word geskrap.

Die regstreekse uitsending van parlementêre sessies word vervang deur verkorte weergawes, wat later uitgesaai sal word.

NBC3, NBC4, NBC5 en NBC6 sneuwel ook in die proses.

Die NBC se 11 radiostasies sal ook slegs tussen 07:00 en 21:00 op die lug wees.

Verder sal die NBC se werknemersreise beperk word en geen buitelandse reise sal onderneem word nie, tensy dit volledig gefinansier word nie.

Oortydskofte sal só bestuur word om koste te sny en geen geleentheid sal regstreeks uitgesaai word nie – tensy dit ook ten volle gefinansier word nie.

“Die huidige situasie raak ook die dekking van die komende presidensiële en Nasionale Vergadering-verkiesings, tensy die produksiekoste volledig gedek word,” lui die nuusverklaring wat gister uitgereik is.

“Die huidige werksmag kan ook deur die proses geraak word. Dít sal van 10 September af in gesprek met die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers en die arbeidskommissaris afskop,” lui die verklaring.

“Daar kan oor die oorblywende werknemers se kontrakte onderhandel word met die oog op kostebesparing gekoppel met voordele wat nou en in die toekoms van toepassing is,” sê die NBC.

Dié voordele sluit onder meer verlofdae, mediesefondsbydraes, pensioenbydraes, versekering en huislenings in.

Me. Sadia Brendell, die NBC se hoof- finansiële beampte, het erken oorbetalings vir pensioen, mediese fondse en ander aftrekkings word lank reeds nie meer gedoen nie.

Die NBC se geldtekort beloop tans N$26,2 miljoen vir die huidige boekjaar.

Dié syfer sluit nie die korporasie se historiese skuld in, wat teen einde Junie vanjaar sowat N$150 miljoen beloop het nie.

Boonop hoop die NBC op nóg N$100 miljoen uit die middeltermyn hersiening van die nasionale begroting.

Die uitsaaier se geldprobleme spruit uit die voortdurend tanende regeringsubsidie voort.

In die laaste ses boekjare het dié bedrag stelselmatig van N$237 miljoen in 2014-'15 tot N$140 miljoen in 2019-'20 verminder.

Terselfdertyd het die regering se bydrae tot die NBC se kapitale uitgawes in die huidige boekjaar weggeval, in vergelyking met 2014-'15 se N$70 miljoen.

“Dié omstandighede lei daartoe dat sake met toerusting bedryf word wat reeds hul rakleeftyd bereik het.”

Vir die 2014-'15-boekjaar was die uitsaaier se inkomste N$90 miljoen, in 2015-'16 was dit N$86 miljoen, in 2016-'17 was dit N$102 miljoen en in 2017-'18 N$116 miljoen.

“Die situasie by die NBC het nou so 'n kritieke stadium bereik dat laste voortdurend styg en pogings om dit te dek, is nie volhoubaar nie,” sê Thieme.

Hy sê die raad ontvang al twee jaar lank geen vergoeding vir hul bydrae nie, en onlangs is hulle deur die ministerie van finansies met vervolging gedreig weens betalings wat nie gemaak word nie.

Thieme sê die waghond vir finansiële instellings in Namibië (Namfisa) oorweeg reeds om die aanklaer-generaal te nader om raadslede te vervolg.

“As die vlak van befondsing nie verbeter om te verseker dit strook met beplande uitgawes nie, sou dit behoedsaam wees om die NBC se likwidasie te oorweeg,” sê hy.

Die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, het gisteraand aan Republikein gesê die regering het reeds die NBC se maandelikse kontantvloei met N$10 miljoen na N$21 miljoen verhoog.

Die regering het die NBC vir kontantvloeiprojeksie gevra en het dit gister ontvang.

“Ons kyk daarna,” het Schlettwein gesê.

Die regering is “baie teleurgesteld” in die NBC se inwinning van inkomste en ­herstrukturering. “Daar het niks van gekom nie,” het Schlettwein gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!