NBC-stakers klop aan eerste minister se deur
NBC-stakers klop aan eerste minister se deur

NBC-stakers klop aan eerste minister se deur

Augetto Graig
Augetto Graig - Stakende werknemers van die nasionale uitsaaier, die NBC, het Woensdag na die parlementsgeboue in Windhoek opgeruk. Hulle het onder leiding van die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu) ’n klagskrif aan die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, oorhandig. Sy het die betogers ure by die hek laat wag, blykbaar omdat sy nie ’n ander beplande vergadering kon misloop nie. Die werkers kon eers ná 16:00 hul griewe lug.

Die bekende televisie-aanbieder en radiostasiebestuurder, me. Franlin Thomas, het die klagskrif voorgelees en aan Kuugongelwa-Amadhila oorhandig. Met betrekking tot die uitsaaiers se wetlike mandaat om Namibiërs ingelig te hou, sê Thomas het werknemers deur hul staking die nasie gefaal. Die staking duur sedert 22 April voort, en veral Namibiërs wat op NBC se radio-uitsendings vir inheemse tale staatmaak vir aktuele sake is reeds meer as 20 dae in die donker.

“Ek moet dit duidelik stel, NBC se werknemers het geen ander keuse gehad as om met hierdie industriële aksie te begin nie,” sê Thomas. Die afwesigheid van die NBC by die onlangse viering van Wêreldpersvryheidsdag en die 30ste herdenking van die Windhoek-deklarasie was ’n skande, sê sy.

“Uitsaaiwese is nie goedkoop nie,” dring sy egter aan, en die regering se besluit om NBC se subsidie met 62% te sny, is ’n aanduiding van die regering se toewyding om toegang tot inligting vir die nasie. Ten spyte van die staking, het NBC se bestuur en nie-stakende werknemers Dinsdagaand vir die eerste keer weer ’n nuusbulletin uitgesaai, insluitend ’n eksklusiewe onderhoud met die minister van inligting en kommunikasietegnologie (ICT), mnr. Peya Mushelenga.

“Die minister het gedurende hierdie middelmatige bulletin – wat deur instaanwerkers vervaardig is – duidelik die belang en waarde van die NBC verwerp, en sy gebrek aan toewyding getoon om die impasse op te los,” sê Thomas.
Mushelenga se poging vroeër die dag om die klagskrif te aanvaar, is deur die NBC-werknemers verwerp.
“Die erns van ons omstandighede moet nie onderskat word nie,” het Thomas gesê.

“Sedert einde April is ons huispaaiemente, ons pensioenbydraes en ons mediese fondse nie betaal nie. Dit is nie die eerste keer nie. In 2018 en 2019 het die NBC-bestuur – sonder ons medewete – ook nie derdepartybetalings nagekom nie. Hulle trek geld af, maar betaal dit nie oor nie. Werknemers is op swartlyste geplaas en al het die bestuur bedrog gepleeg, is hulle nie aanspreeklik gehou nie,” sê sy.
Vir die 140 werknemers wat al jare op kontrak werk en wie se kontrakte maandeliks hernu word, is die vooruitsigte nog donkerder.
Die werknemers eis die NBC moet wegdoen met die stelsel van kontrakarbeid, dat die NBC se subsidie hersien word, en die huidige begroting verwerp word. Hulle eis ook ’n forensiese oudit en die onmiddellike afdanking van die NBC se topbestuur.

Kuugongelwa-Amadhila het belowe om teen Maandag op die klagskrif te reageer.
Intussen het verskeie plaaslike en internasionale organisasies hul ondersteuning aan die NBC-werknemers verklaar.
Die Internasionale Federasie van Joernaliste (IFJ), die Indiese Joernalisvakbond, Die Federazione nazionale della Stampa Italiana-persvakbond van Italië, en die Namibiese Media Professionele Vakbond (Nampu) ondersteun almal die stakers.
Asook die Namibia Christian Apostles and Prophet Association (NACAPA) se aartsbiskop en Swapo se Oshana-tak staan saam met die werknemers.

Ander internasionale vakbonde vir joernaliste wat die NBC-stakers ondersteun sluit in dié van Athene in Griekeland, die Belgiese Vereniging van Joernaliste, en Syndicom van Switserland. Die Vakbondkongres van Namibië (Tucna) stel voor die minister van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, mnr. Utoni Nujoma, moet ingryp.

Die aktivis me. Rosa Namises het aan die optog deelgeneem en gepleit: “Maak die radiostasies oop, asseblief mnr. (Lazarus) Jacobs (voorsitter van die NBC-direksie). Hulle vra nie te veel nie, luister na hierdie harde werkers. Hulle is nie onpatrioties nie. Hulle vra net wat hulle toekom,” het sy gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!