NBC-werkers verloor vertroue in vakbond
NBC-werkers verloor vertroue in vakbond

NBC-werkers verloor vertroue in vakbond

Die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers se verteenwoordiging van NBC-werk­nemers staan tans op 45,5%.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu) kan dalk sy meerderheid ver­teenwoordiging en status as eks­klusiewe onderhandelingseenheid namens werknemers van die nasio­nale uitsaaier, die NBC, kwyt wees.

Die uitsaaikorporasie se direkteur-generaal, mnr. Stanley Similo, het Maandag aan die algemene sekretaris van Napwu, mnr. Peter Nevonga, geskryf om hom van dié verwikkeling in kennis te stel.

Volgens die brief het Napwu nie meer die vereiste 51% plus een meerderheid om vir die status as die eksklusiewe onderhandelingseenheid te kwalifiseer nie.

“Jou vakbond se lidmaatskap was 14,5% op 1 Junie 2021,” het Similo aan Nevonga geskryf.

Similo het verwys na die erkenningsooreenkoms tussen die NBC en Napwu, waar dit in afdeling 4.1 stipuleer die uitsaaikorporasie moet die vakbond drie maande kennis gee om weer die meerderheid verteenwoordiging terug te win, voordat NBC erkenning van die vakbond kan terugtrek, en sodoende die ooreenkoms nietig kan verklaar.

“Daar word dus van Napwu verwag om voor of teen 30 September 2021 die situasie te beredder,” skryf Similo.

By navraag het Nevonga bevestig dat hy die brief ontvang het en het gesê dit is 'n interne kwessie wat die vakbond op sy eie manier sal regstel.

NBC se woordvoerder, me. Umbi Karuaihe-Upi, het gesê om die persentasie vas te stel van hoeveel NBC-werknemers lede van Napwu is, kan aansoeke van werknemers vir die outomatiese aftrekking en oordrag van maandelikse lidmaatskapfooie nagegaan word. Die aantal werknemers wat lidmaatskapfooie laat aftrek, kan vinnig teen die totale werksmag vergelyk word, sê sy.

Weens Napwu se vier week lange NBC-staking wat op 26 Mei laat vaar is en die NBC se beleid van geen-werk-geen-betaling, het van die werknemers aan die einde van Mei nie 'n salaris ontvang nie, en weens die nasionale uitsaaier se toepassing van aftrekkings om volle salarisbetalings aan die einde van April terug te win, word aftrekkings steeds van sekere betrokke werknemers gemaak.

Hierdie aftrekkings is ter sprake in 'n hofsaak wat deur die Namibiese Unie vir Staatsamptenare (PSUN) aanhangig gemaak is waarin 40 NBC-werknemers verteenwoordig word.

Die PSUN se prokureur, mnr. Ujama Kaahangoro, sê in sy beëdigde verklaring die NBC moes salarisaftrekkings vanaf die begin van die staking toegepas het, en dat hul aftrekkings die toegelate persentasie van salarisse ingevolge die arbeidswet oortref het.

Namens die NBC lui mnr. Vezenga Kauraisa se verklaring dat die outomatiese betaalstelsel wat die uitsaaikorporasie gebruik nie vir April verander kon word nie.

“Die staking het op 22 April afgeskop en teen daardie tyd het die outoma­tiese betaalstelsel reeds betalings begin prosesseer,” sê hy.

Volgens mnr. Laurence Kavendjii, nog 'n prokureur wat namens die PSUN optree, is die hofsaak verkeerdelik op die elektroniese hofstelsel as 'n hoërhofsaak aangeteken en het hulle voor die geskeduleerde verhoor Woensdag die saak teruggetrek, om dit moontlik teen vandag weer in te dien, dié keer vir verhoor in die arbeidshof.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer