NCA maan oor veldbrande
NCA maan oor veldbrande

NCA maan oor veldbrande

Produsente moet veral nou, tydens die brandseisoen, streng by maatreëls hou om veldbrande te voorkom.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Terwyl ’n veldbrand Sondag in die Outjo-omgewing geblus is nadat glo sowat 3 hektaar afgebrand het, het die Namibiese Houtskoolvereniging (NCA) opnuut ’n beroep op hul lede gedoen om aan die streng maatreëls vir die verbranding van houtskool te voldoen.

Dit volg nadat ’n reusebrand verlede week Woensdag en Donderdag altesaam 31 352 ha, of na raming tot 14 plase in die Otjiwarongo-gebied afgebrand het.

Die presiese gebied wat deur die brand by Otjiwarongo geraak is, is intussen gekarteer en bereken. Die Namibië Landbou-unie (NLU) het aangedui dit sal sy Dare to Care-rampfonds aktiveer sodat bystand aan die geraakte boere verleen kan word.

In die jongste voorval het ’n brand glo op die plaas Mayerton naby Outjo voorgekom, maar dit is vinnig geblus.

“Die belangrikste reëls sluit in dat die verbranding van houtskool, veral tydens die brandseisoen, in groeperings moet plaasvind en daar 24 uur ’n dag en sewe dae ’n week toesig oor die kilns gehou word,” het die NCA gisteroggend in ’n plasing op hul Facebook-blad gesê.

“Geen kiln moet alleen in die veld gelaat word nie en kilns moenie brand terwyl sterk winde waai nie.

“Ons doen ’n beroep op boere om seker te maak die reëls word gevolg en dat die verontagsaming hiervan by die NCA aangemeld word. Dit sal dan aan die bosboudepartement deurgegee word wat oespermitte kan terugtrek,” het die NCA gewaarsku.

Dit volg nadat nuwe maatreëls deur die direktoraat van bosbou vroeër vandeesmaand aangekondig is om die risiko van veldbrande te verlaag wat deur houtskoolproduksie veroorsaak word.

As produsente nie hieraan gehoor gee nie, kan hulle die nodige permitte verloor om kole te brand, sê die NLU in ’n nuusbrief.

Hierdie maatreëls, wat onmiddellik in werking getree het, sal jaarliks van 1 Augustus tot 31 Desember geld.

Hiervolgens is dit verpligtend om houtskooloonde in groepe saam te brand. Enkeloonde wat verspreid deur die veld brand, word gedurende hierdie periode verbied.

Verder sal ’n plaas waarop houtskool geproduseer word, ’n brandstrook van 15 m breed op die grense aan die einde van elke reënseisoen moet aanbring. ’n Area binne ten minste ’n 5 meter-radius moet ook skoongemaak word rondom die oonde wat saam gegroepeer is voordat hulle aan die brand gesteek word.

Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het ’n dringende beroep op houtskoolprodusente gedoen om hierdie nuwe maatreëls ten volle toe te pas ten einde die risiko van onbeheerde veldbrande, wat jaarliks groot skade aan die omgewing aanrig, tot die minimum te beperk.

Bosbou-amptenare mag plase waar houtskool geproduseer word, inspekteer om seker te maak hierdie nuwe maatreëls word toegepas. Die plase wat nie hieraan voldoen nie se oes- en bemarkingspermitte kan summier opgeskort word.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!