NCF moet vakante poste vul

Die toegelate termyne van die veterane mnr. Rolf Adrian en me. Hella Rust het verstryk.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die nuwe era vir die admini­strasie van die Namibiese Fietsryfederasie (NCF) kon nog nie voluit op dreef kom nie, met komplikasies wat meegebring het dat vakante posisies by 'n tweede algemene jaarvergadering volgende maand gevul moet word.

Mnr. Rolf Adrian, wat die afgelope jare as NCF-president diens gedoen het en voor dit ook visepresident onder sy voorganger Mannie Heymans was, het reeds tien jaar op die uitvoerende komitee van die nasionale beheerliggaam gedien.

Die Namibiese Sportwet stel 'n beperking van tien jaar vir administrateurs om op die uitvoerende komitee van 'n nasionale beheerligaam te dien – wat ook 'n stokkie steek voor die voortgesette betrokkenheid van me. Hella Rust, nóg 'n jarelange gesoute steunpilaar vir plaaslike fietsry.

'n Sterk gevoel bestaan dat die nuwe topbestuur tot voordeel van die sport steeds op Adrian en Rust se knoppie vir hul ondervinding en kundigheid moet kan druk, hoewel hulle volgens die genoemde regulasies hoogstens op subkomitees of as konsultante sonder stemreg mag dien.

Die NCF se algemene jaarvergadering wat twee weke gelede gehou is, was baie goed bygewoon, wat spreek van die belangstelling deur fietsryklubs om die gesonde peil van die sport die afgelope jare te handhaaf en verder daarop voort te bou.

'n Nuwe uitvoerende komitee is verkies wat Woensdagaand die eerste maal sou vergader om portefeuljes aan die lede toe te ken, maar komplikasies het ontstaan toe regulasies na vore gebring is wat sekere lede se kiesbaarheid in die weegskaal geplaas het.

Mnr. Johan Pretorius, die amptelike tydhouer by alle NCF-byeenkomste, het twee dae ná sy verkiesing onttrek ten einde op hierdie verantwoordelikheid gefokus te bly.

Drikus Coetzee se status as aktiewe fietsryer (op nasionale elite vlak) het hom van insluiting op die NCF se uitvoerende komitee gediskwalifiseer, terwyl Johan Vorster uitgeskakel is deurdat hy nie oor 'n Namibiese paspoort beskik, soos klaarblyklik deur die Sportwet vereis word nie. Vorster se vrou, Michelle, is die land se voorste bergfietsryer, 'n gewese Afrika-kampioen asook Olimpiese spanlid in 2016.

Nóg 'n kinkel is dat verkose lede nie gelyktydig op die uitvoerende besture van die Fietsryfederasie én enige klub mag dien nie. Persone in dié situasie sal dus moet besluit of hulle bereid is om by hul klub die tuig neer te lê.

Die NCF sal dus 'n spesiale algemene jaarvergadering in Augustus byeen roep waar opnuut 'n verkiesing gehou sal word om vakante posisies te vul en 'n voltallige uitvoerende komitee aan te stel.

Drie uitvoerende lede van die vorige termyn is steeds daar, naamlik Nick du Plessis, Benjamin Haidula en Justin Ellis. Die ander nuut verkose lede is Joao da Costa, wat ontwikkelingswerk vir fietsry in die noorde doen, en Brendan Dickerson.

• Republikein het vroeër vandeesweek die voorlopige nasionale fietsryspan gepubliseer wat die NCF vir die Afrika-spele volgende maand in Marokko aangekondig het.

Intussen het die voorsitter van Namibië se spelekomitee, mnr. Letu Hamhola, by navraag die voorlopige lys van sportkodes bekend gemaak waarin Namibië beoog om spanne na Marokko te stuur. Dié 14 kodes is atletiek, basketbal (drie-teen-drie), boks, boogskiet, fietsry, karate, skaak, skerm, skiet, stoei, strandvlugbal, swem, tennis en triathlon.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!