Nchindo-vissers se ma sterf
Nchindo-vissers se ma sterf

Nchindo-vissers se ma sterf

’n Broer van die vissermanne wat glo deur Botswana se weermag doodgeskiet is, sê hulle voel beter nadat die regering aangedui het die skietery word ondersoek.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Die 69-jarige ma van drie van die vier vissermanne wat verlede week na bewering deur Botswana se weermag (BDF) op die Choberivier doodgeskiet is, is Dinsdagnamiddag dood nadat sy inmekaargesak het.

Haar seun, mnr. George Nchindo, het dit gister aan Republikein bevestig en gesê sy ma, me. Alphonsina Nkungamo Nchimbo, se dood is veral ’n slag omdat op haar staatgemaak sou word om na die afhanklikes van sy oorlede broers om te sien.

Dit volg nadat sy broers, mnre. Tomm, Martin en Wamunyima Nchindo, asook hul Zambiese neef, mnr. Sinvula Munyeme, verlede Donderdagnag glo deur die BDF naby die Kasika-nedersetting by Kasane doodgeskiet is, met die buurland wat volhou die vier mans het hulle aan stropery skuldig gemaak.

Nchindo sê hul ma se dood is ’n tragedie en die familie sal moontlik voorts die oorledenes se afhanklikes onder mekaar moet verdeel om te versorg.

Hy sê tans rus die las van begrafnisreëlings boonop swaar op hulle en hy sou graag hulp vanaf die regering wou gehad het met die aankoop van onder meer kiste, asook om in begrafnisgaste se behoeftes te voorsien, wat reeds in groot getalle begin opdaag het.

Nchindo sê egter hulle voel beter ná pres. Hage Geingob gister met die Nchindo-familie by Staatshuis ontmoet en aangedui het dat hy en Botswana se president, pres. Mokgweetsi Masisi, reeds gesprekke oor die voorval gevoer het.

ONDERSOEK

Namibian Sun se Ogone Tlhage het Woensdag berig die dood van dié mans het skynbaar tot diplomatiese spanning tussen Namibië en Botswana gelei.

Botswana se hoë kommissaris in Namibië, mnr. Batlang Serema, wou ook nie Dinsdag kommentaar lewer nie en het gesê die ondersoek duur steeds voort.

Tog het hy, volgens ’n verklaring Dinsdag deur die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, glo aan haar erken die Namibiërs is deur Botswana se weermag (BDF) geskiet.

Geingob het die Nchindo-familie by Staatshuis ingelig die twee lande het ingestem om ’n gesamentlike ondersoek van stapel te stuur. Hy sê hy het vertroue in Masisi en hulle sal voortdurend mekaar raadpleeg totdat die ondersoek afgehandel is.

Geingob het ook gesê Masisi het sy medelye teenoor die familie uitgespreek.

Die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, mnr. Frans Kapofi, het aan Namibian Sun gesê die familie sal by die lykskouings in Francistown, Botswana, toegelaat word. Die familie is ook ingelig ’n staatspatoloog van Namibië sal na Francistown reis om deel van die lykskouings te wees.

VRAE

Die BDF, wat na bewering die mans geskiet het, het intussen ’n verklaring uitgereik om te sê hy sal sy gebied teen stropers beskerm.

Die Namibiese familie van die oorledenes het egter ontken dat hulle stropers was en gesê die drie broers en hul neef het slegs gehengel en was ongewapen.

George Nchindo het aan die Namibian Sun gesê dit is volgens hom verdag hoe die skietery plaasgevind het.

“Almal van hulle is van naby in die kop geskiet,” het hy aangevoer.

Tydens die ontmoeting by Staatshuis het die familie die Namibiese regering se reaksie op die gebeurtenis bevraagteken en aangevoer tot 30 mense is die afgelope jare deur die BDF geskiet.

Hulle wou ook weet hoekom die oorledenes nie eerder in hegtenis geneem is en aan ’n geregtelike ondersoek onderwerp is, eerder as om bloot doodgeskiet te word nie.

Die familie het bygevoeg die oorledenes was as vissermanne aan immigrasiebeamptes in die gebied bekend en hulle het geen kriminele rekords gehad nie.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer