NCRST-baas hardloop glo weg

Dié staatsonderneming word beskuldig van die ineenstorting van bestuurstelsels.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Dr. Alfred van Kent, permanente sekretaris van hoër onderwys, opleiding en vernuwing, het ontken dat hy verantwoordelik is vir die bedanking van dr. Eino Mvula, uitvoerende hoof en stigter van die Nasionale Kommissie vir Navorsing, Wetenskap en Tegnologie (NCRST).

Mvula het teen die einde van Mei die NCRST verlaat voor sy vyfjaarkontrak met die staatsonderneming in 2019 verstryk het.

Sy onverwagse vertrek by die NCRST het aanleiding gegee tot wydverspreide gissinge dat Van Kent die begroting doelbewus besnoei het om hom te frustreer.

Van Kent het glo teen Mvula te velde getrek omdat Van Kent self die toppos by NCRST in sy visier gehad het.

Intussen het Mvula geskuif van die posisie as uitvoerende hoof van die NCRST na hoofbedryfsbeampte (COO) by die Finansiële Ondersteuningsfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) - dít na bewering as gevolg van Van Kent se "onderduimsheid".

Van Kent het dié beweringe ontken.

“As permanente sekretaris is die prestasies van die instellings waarvoor ek verantwoordelik is ’n refleksie op my en die minister (dr. Itah Kandjii-Murangi).

"Mvula se vertrek is 'n persoonlike keuse. Hy moenie iemand anders blameer nie. Ek weet nie hoekom hy weg is nie," het Van Kent gesê.

Die instellings waarna Van Kent verwys is die Universiteit van Namibië (Unam), die Namibiese Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust), die NCRST, die Namibië Opleidingsowerheid (NTA), die Nasionale Raad vir Hoër Onderwys (NCHE) en die (NSFAF).

Van Kent het ook gesê dat daar 'n beduidende vermindering in die toekenning van regeringsubsidies aan alle openbare instellings is, maar nie aan die NCRST nie.

"Regerings moet begrotings konsolideer om volhoubaarheid te verseker. Dit geld ook vir Namibië," het Van Kent gesê.

Hy het gesê die N$2,4 miljard wat die ministerie van hoër onderwys vanjaar ontvang het, is eweredig verdeel.

"Na my mening is daar instellings met minder operasionele toewysing as die NCRST.

"Al die funksionele areas onder die ministerie, beroepsopleiding en opleiding, asook opleiding en navorsing, wetenskap en tegnologie en vernuwing, is kritiek vir Namibië se groei.

"Dit is dus vanselfsprekend dat die vermindering van subsidies alle agentskappe wat onder die ministerie val, geraak het," het Van Kent bygevoeg.

Die ministerie van finansies het N$600 miljoen aan instellings van hoër onderwys toegeken en dit is proporsioneel tussen Unam en Nust verdeel. Die regering se subsidie aan die NCRST vir 2017-'18 is met 38% verminder.

"Die aantyging dat ek die NCRST se begroting doelbewus gesny het, is ongeldig omdat ons geld proporsioneel toegeken het.

"Mvula se finansieringspan was deel van die besprekings toe hierdie toekennings gedoen is. Alle instellings word geraak en almal moet volgens hul vermoëns leef," het Van Kent gesê.

Hy het gesê daar word voortdurend met die ministerie van finansies onderhandel om uitdagings die hoof te bied.

"Daar is met Mvula en sy span ooreengekom dat die toekennings aan die ontwikkelingsbegroting mettertyd hersien sal word," het Van Kent gesê.

'WEGGEHARDLOOP'

In die binnekringe word beweer dat Mvula gevlug het ná 'n verdoemende forensiese ondersoek deur BDO Cyber & Forensic Lab.

Van die bevindinge van hierdie oudit, wat vir die tydperk tussen 1 April 2014 en Desember 2016 gedoen is, is dat daar 'n "ernstige ineenstorting in finansiële beheermaatreëls" by NCRST was.

Ander bevindinge is dat finansiële prosedures nie gevolg is nie, dat daar "min of geen toesig" was, geen "duidelike skeiding van pligte" was nie en geen "kontrolemaatreëls" was nie.

Volgens die oudit kon bedrieglike transaksies dus ongemerk deurglip.

Die ouditondersoek het aanbeveel dat verkrygingsprosedures herevalueer moet word en het voorgestel dat 'n volledige oudit gedoen word.

In die binnekringe word beweer dat Mvula nie 'n volle oudit wou laat doen nie.

Hy het gesê die BDO-oudit in Januarie was ’n opdrag omdat daar ’n vermoede was dat "twee personeellede hulself skuldig gemaak het aan ernstige wangedrag ten opsigte van bedrieglike aktiwiteite wat verband hou met die betaling van diensverskaffers se rekeninge".

Mvula het gesê die bevindinge van die oudit is aan die NCRST-raad se finansiering- en ouditkomitee toevertrou.

Dié komitee se verantwoordelikheid is om toesig te hou oor die implementering van die oudit se aanbevelings.

Mvula het gesê hy mag die ouditverslag volgens ’n vertroulikheidsooreenkoms nie verder bespreek nie.

Mvula het gesê die NCRST gee deurlopend gehoor aan regsvereistes en sedert die staatsonderneming in 2013 op die been gebring is, was sy finansiële state van ’n hoë standaard, wat dui op verantwoordelike finansiële bestuur.

Die twee personeellede wat deur BDO ondersoek is, is in Desember geskors. In die binnekringe word beweer dat hierdie skorsings gedoen is sonder dat enige klagtes teen hulle aanhangig gemaak is en sonder enige dissiplinêre proses.

Een van die geskorste personeellede het intussen by die NCRST bedank en by die owerheid vir sake- en intellektuele eiendom (BIPA) begin werk.

“Wie het vir hom verwysings gegee?” word in die binnekringe gevra. Wenkbroue is ook gelig omdat die skorsings nie openbaar gemaak is nie - veral omdat die belastingbetaler se geld op die spel is.

BEWERINGS VAN MISLEIDENDE NAVORSING

In die binnekringe word Mvula daarvan beskuldig dat hy navorsingsprojekte gefinansier het wat nie noodwendig in openbare belang is nie.

Daar word beweer N$14 miljoen is verlede jaar aan 'n handjievol "uitverkore maatskappye" se navorsingsprojekte bestee.

Hierdie navorsingsprojekte het glo ook nie tot ontwikkeling bygedra nie.

Mvula het gesê die projekte was op belangrike gebiede wat deur die nasionale program vir navorsing, wetenskap en tegnologie vir 2014-'15 tot 2016-'17 geïdentifiseer is.

Dié gebiede sluit in gesondheid, landbou, energie, water, geowetenskap, mynbou, omgewing en toerisme, maatskaplike dienste, kommunikasietegnologie, vervaardigingstegnologië, biotegnologie en ruimtewetenskap.

Mvula het gesê die toekenning van navorsingsubsidies dui op die intensiteit van navorsing wat by Unam en Nust gedoen word, terwyl die res toegeken word aan organisasies soos die Gobabeb Navorsing- en Opleidingsentrum en jeugorganisasies.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!