Ndonga Linena: ECN hertel stemme
Swapo dring aan op ’n herverkiesing terwyl APP sê hulle sal deelneem in die hertelling van stemme.
Augetto Graig
Die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) gaan môre die stembriewe van die streekraadsverkiesing vir die Ndonga Linena-kiesafdeling – wat op 25 November 2020 plaasgevind het – by sy hoofkantoor in Windhoek hertel.
Dit volg op ’n uitspraak van die kieshof wat op 13 September gelewer is.
Volgens die ECN se hoofkiesbeampte, mnr. Theo Mujoro, sal die kommissie volkome aan die hofbevel voldoen en word logistieke reëlings reeds getref om ’n geloofwaardige en deursigtige hertelling te verseker.
“Ons neem kennis van Swapo se nuusvrystelling wat verskeie kwessies aanraak. ’n Omvattende reaksie sal vrygestel word om op dié kwessies te reageer en besonderhede oor die hertelling te verskaf,” het hy gesê.
Swapo se sekretaris-generaal, me. Sophia Shaningwa het Maandagoggend gesê die regerende party maak beswaar teen die uitlatings van die uittredende ECN-voorsitter, adv. Nontemba Tjipueja, wat verlede week gesê het mnr. Kampota Michael Shiwana, die Swapo-kandidaat, is verkeerdelik as die wenner aangewys.
Shiwana dien sedert die verkiesing se uitslae op 27 November verlede jaar aangekondig is, op die Kavango-Oosstreekraad. Die hofuitspraak het sy setel op dié raad nietig verklaar.
Shaningwa sê die party se seel op die stembusse is nie in Swapo-beamptes se teenwoordigheid gebreek en sê: “Die integriteit van die verkiesing word in gedrang gebring.”
“Terwyl die hooggeregshof toegang tot die verkiesingsmateriaal gelas het, het dié hof geensins gelas die wet word oortree nie. Ons weet nie wat daar gebeur het nie, aangesien ons partybeamptes nie teenwoordig was toe die gestoorde stembusse oopgemaak is nie,” voeg sy by.
‘NONSENS EN KINDERAGTIG’
Shaningwa dring aan op ’n herverkiesing.
Die All People’s Party (APP), wat die kieshof genader het om ’n dispuut oor die stemuitslae te verklaar, se sekretaris-generaal, mnr. Vinsent Kanyetu, sê egter Shaningwa se uitlatings is onsin.
“Swapo se versoek word verwerp. Dit is nonsens en kinderagtig en ons aanvaar dit nie. Ons het amper 11 maande lank oor hierdie kwessie gedebatteer en hulle het die geleentheid gehad om in die hof beswaar aan te teken, nie in die raadsaal nie.
“Ons gaan voort en as hulle nie hul verteenwoordigers wil stuur nie, is dit ook reg so. Ons sal daar wees met 12 beamptes om te verseker elke stem word getel en die ware uitslae word aangekondig en vrygestel,” sê hy.
Die APP se kandidaat, mnr. Balthazar Daniel Djami, het tweede in die verkiesing gekom nadat hy, volgens die ECN se vrystelling op 27 November 2020, net 12 stemme minder as Shiwana verwerf het.
Die APP het volgens die hof inderhaas die kwessie opgeneem en kon daarin slaag om die ECN te dwing om toegang tot 57 betrokke bedorwe stembriewe te verkry.
Die ECN kon egter net vier afdrukke van bedorwe stembriewe verskaf, omdat ander ongetelde stembriewe in die stembusse nie as bedorwe gemerk was nie.
Die hof het beslis dat die res van die 20 ongetelde stembriewe wat die ECN wel kon verskaf, duidelik toon vir wie die kiesers wou stem. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie