NDP deel lang lys griewe met parlement
NDP deel lang lys griewe met parlement

NDP deel lang lys griewe met parlement

Dani Booysen
‘n Klagskrif is aan die Speaker gerig waarin die Nasionale Demokratiese Party (NDP) in die Zambezistreek versoek verdere gesprekke oor toegewing in verband met aborsie moet afgelas word.

Mnr. Martin Lukato, NDP-leier, voer aan die kwessie is net soos sterilisasie reeds toe dr. Libertine Amadhila nog minister van gesondheid was in die doofpot gestop omdat die land se Christen-meerderheid ten sterkste daarteen gekant is.

Lukato beweer net vier persent van mense is ten gunste van aborsie.

Die NDP voer aan aborsie en sterilisasie is teen die tien gebooie en volgens Lukato beteken die oortreding van net een gebod “dat ons die res van hulle (die gebooie) skend en sonde pleeg.”

Moderne kultuur en eise vir “modern” wetgewing, voer Lukato aan, is in stryd met die Bybel en tradisie.

Namibië moet volgens hom wal gooi teen byvoorbeeld geslagsgelykheid in die huwelik, die goedkeuring van gay huwelike en die wettiging van dagga – prosesse wat luidens die NDP as gevolg van winsbejag deur liberale supermoondhede van stapel gestuur is. Die party verwerp ook alle vorme van voorbehoed wat nie op onthouding geskoei is nie.

Die klagskrif aan prof. Peter Katjavivi sê Bybelse voorskrifte kan nie geamendeer word nie.

Aborsie mag volgens Lukato net toegelaat word in die geval van verkragting en molestering. Die NDP ondersteun ‘n referendum oor die kwessie.

ANDER KWESSIES

Ander voorstelle aan die parlement behels die rotering van die speakerskap, die daarstel van ‘n werklik onafhanklike verkiesingskommissie en die samestelling van ‘n waarheid- en versoeningskommissie om alle gruwels voor 1990 te ondersoek.

Die NDP stel ook ‘n onafhanklike kommissie vir hulpbronne voor wat alle hulpbronne en staatseiendom moet bestuur om misbruike en korrupsie te verhoed.

Die kommissie moet volgens Lukato ook ondersoek instel hoekom sekere amptenare staatshuise verloor het, terwyl hooggeplaastes nou sulke huise vir ‘n appel en ’n ei kan koop.

Sodra daar enige bewyse is wat die staatshoof en kabinet inkrimineer as aandadiges in die Fishrot-skandaal, moet pres. Hage Geingob volgens die NDP dadelik bedank. Die president moet volgens die NDP ook in ‘n staat van beskuldiging geplaas word indien dit aan die lig kom dat hy nie teen betrokke kabinetslede opgetree het nie.

Die uiteinde moet volgens Lukato ‘n nuwe verkiesing wees.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer