NDP5 jaag kwartmiljoen werke
NDP5 jaag kwartmiljoen werke

NDP5 jaag kwartmiljoen werke

Namibië se nuwe ontwikkelingsbloudruk bestaan uit 80 programme en 171 projekte.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – Namibië se Vyfde Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP5), wat vanoggend deur pres. Hage Geingob bekend gestel word, gaan poog om teen 2022 sowat 250 000 nuwe werkgeleenthede te skep.
Die Chinese nuusagentskap Xinhua het gister die Nasionale Beplanningskommissie (NPC) se hoof van ontwikkelingsadvies, Sylvester Mbangu, in dié verband aangehaal. Volgens Mbangu wil die regering jaarliks 50 000 werkgeleenthede skep.
Die NPC het gister in ‘n verklaring gesê N$164,2 miljard gaan in die 80 programme en 171 projekte van NDP5 ingepomp word. Finansiering van alle moontlike bronne is dus nodig. “Omsigtige en verantwoordbare praktyke wat vertoning- en resultaatgedrewe” is, sal gevolg moet word, sê die NPC.
Die NPC het vyf teikens wat die “spel gaan verander”: Groter belegging in infrastruktuurontwikkeling, verhoogde produktiwiteit in landbou (veral kleinskaalboere), belegging in tegniese kundigheidsontwikkeling van gehalte, beter waardetoevoeging van natuurlike hulpbronne en nywerheidsontwikkeling deur plaaslike verkryging.
Werk
‘n Konsep van NDP5 in Republikein se besit toon net “meer as sowat 100 000” werkgeleenthede in totaal is na raming die afgelope vyf jaar tydens die NDP4-termyn geskep – hoofsaaklik in die groot- en kleinhandel-, asook in die konstruksiesektor.
Die Namibiese ekonomie het verlede jaar egter vanweë drastiese regeringsbesnoeiing en ‘n steeds trae wêreldekonomie sy ergste insinking sedert 2009 beleef en met skaars 0,2% gegroei. Die jongste arbeidsyfers wat verlede week deur die Namibië Statistiekagentskap (NSA) vrygestel is, toon 31 430 werkgeleenthede het sedert 2014 in die groot- en kleinhandelsektor in die slag gebly.
Hoewel die konstruksiesektor in 2016 sowat 6 000 meer werk as in 2014 verskaf het – hoofsaaklik vanweë reuse-regeringsbesteding – het dié bedryf intussen ineengestort. In die sewe maande tussen 1 September 2016 en 31 Maart vanjaar is sowat 30% van werkers in die bedryf uit hul poste ontslaan, toon ‘n opname wat die Federasie vir Namibiese Konstruksiebedrywe (CIF) in April onder sy lede gedoen het.
Namibië se werkloosheidskoers het van 28,1% in 2014 tot 34% verlede jaar gestyg.
Sou die regering nie “50 000 of meer” werkgeleenthede jaarliks kan skep nie, sal dit nie die doelwitte van NDP5 kan bereik nie, het Mbangu aan Xinhua gesê. “Dit sal dus pogings van alle kante vereis: Van die regering rakende beleid, die private sektor betreffende belegging en deur sektore te teiken wat werkgeleenthede kan skep,” sê hy.
Fokus
Volgens die NDP5-konsepdokument is nie veel die afgelope vyf jaar met ekonomiese transformasie vermag nie.
“Die geprioritiseerde ekonomiese sektore in NDP4 het nie na verwagting presteer nie,” lui die dokument.
NDP4 het op net vier ekonomiese sektore as ontwikkelingsprioriteit gefokus: Toerisme, logistiek, vervaardiging en landbou. Die NPC het juis dié plan se fokus vernou nadat NDP3 – wat 21 doelwitte gehad het – gefaal het om armoede in die land te verminder.
Volgens die NPC berus die nuwe NDP op vier pilare: Ekonomiese vooruitgang, maatskaplike transformasie, ‘n volhoubare omgewing en goeie regering.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!