Nedbank fokus op lig aan die einde van die tonnel
Niel Joubert - Nedbank se belang in Ecobank het die Suid-Afrikaanse maatskappy wéér geknou, maar Nedbank bly positief oor die vooruitsigte vir dié belegging.
Nedbank se eie bedrywighede vaar egter goed, het die maatskappy gister met die bekendmaking van sy resultate vir die ses maande tot einde Junie gesê.
Mike Brown, uitvoerende hoof van Nedbank, sê die maatskappy se bedrywighede wat hy self bestuur, het ’n “stewige vertoning” gelewer, met ’n 6,7%-styging in sy wesensverdienste oor dié tydperk.
Die maatskappy in geheel se vertoning is egter negatief geraak deur Nedbank se aandeel in die verlies van sy assosiaat Ecobank, sê Brown.
Gevolglik is Nedbank se algehele wesensverdienste 2,9% laer op R5,27 miljard vir die ses maande.
Ecobank sukkel met swak ekonomiese toestande in sy grootste markte in Wes- en Sentraal-Afrika, veral in Nigerië.
Brown sê daar is steeds risiko’s vir Ecobank, maar die vooruitsigte verbeter.
Ecobank het ook in die 2016-boekjaar Nedbank se syfers geknou. Nedbank het in Oktober 2014 ’n belang van sowat 20% in die maatskappy verkry.
Nedbank se totale getal kliënte het oor die tydperk met 4% tot 7,9 miljoen toegeneem.
Nedbank se korporatiewe en beleggingsbankdienste was weer die uitblinker onder sy drie bedryfsafdelings. Dié afdeling se wesensverdienste het met 6,9% tot R3,2 miljard toegeneem.
Sy kleinhandel- en sakebankdienste het ook stewig vertoon en sy wesensverdienste het met 7,3% – van R2,37 miljard tot R2,54 miljard – toegeneem.
Nedbank se kleinhandelbankkliënte het met 2,8% tot 7,531 miljoen toegeneem. Hiervan beskou 2,702 miljoen, oftewel 36%, Nedbank as hul primêre bank.
Die swak plaaslike ekonomiese toestande het ook Nedbank Wealth geraak en dié afdeling het nie te waffers gevaar nie. Sy wesensverdienste was op R519 miljoen 15,5% minder as in die ooreenstemmende ses maande.
Brown sê “in die konteks van ’n moeilike politieke en ekonomiese omgewing” verwag hy dat die groei in Nedbank se verdienste vir 2017 positief sal wees, maar minder of gelyk aan die groei in die nominale bruto binnelandse produk.
Sy tussentydse dividend is met 7% tot R6,10 per aandeel opgestoot. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie