Nederige Uis oorwin 'einde van die aarde'

Patagonië is nie vir sissies nie.
Des Erasmus
Des Erasmus - ’n Gewone egpaar van die nederige Uis, Nico en Riana Scholtz, het nuwe bakens vir Afrika, in die besonder Namibië, geplant met hul deelname aan en voltooiing van die uitmergelende Ultra Fjord-veldwedloop in Chili se Patagonië-streek op die suidpunt van Suid-Amerika.

By die basis was dokumentêre bewys dat Riana die eerste vrou uit Afrika is wat haar aangemeld het.

Sover vasgestel kon word, was Nico ook die eerste mansatleet uit Namibië, hoewel die deelname van enkele ultramansatlete uit Suid-Afrika bewys kon word.

Vorige deelnemers het die roete reeds bestempel as waarskynlik die wildste natuurlike landskappe op aarde.

Riana het nie net as die eerste vrou uit Afrika in die Ultra Fjord uitgestaan nie. Sy het in die kategorieë vir vroue in die ouderdomsgleuf 30 tot 39 jaar oor ’n afstand van 50 km deelgeneem. Sy skat hulle was sowat vyftig deelnemers uit vele wêrelddele. Die beamptes het gepraat van 55. Toe behaal sy ’n tweede plek. Haar tyd was 12 uur 45 minute.

Nico het aan die wedloop oor 70 km deelgeneem. Hy was reeds 55 km ver en in die bondel toe die wedloopbeamptes die marathon oor ysriviere, turfmoerasse, gletserbedekte bergland en gevaarlike rotslandskappe afgelas het uit vrees vir ’n Suidpoolstorm wat oor “die einde van die aarde” opgekom het.

Terug in die sonskyn van Uis was ’n ligte kniebesering van Riana nog ’n stempelafdruk van die haas onmoontlike wat Riana en Nico vermag het.

“Net om daar te kom, was klaar ’n prestasie,” het Riana aan Republikein gesê. “Die lugreis na Sao Paolo, die oorstappery daar na ’n ander vliegtuig en die laaste skof padlangs het klaar 48 uur in beslag geneem. Patagonië lê sowat ’n duisend kilometer verder suid as Nieu-Seeland.

“En dit vir veldatlete van Namibië met die ruwe Damaraland as hul oefenveld. Die Ultra Fjord gaan nie uitsluitend oor fiksheid nie. Alles is eerder in die kop. Kan jy elke keer die uitdaging op uitdaging aanvaar en oorwin?

“Die Ultra Fjord is nie net ’n wedloop nie. Dis ’n toets vir oorlewing. Die woude is dig. Wilde winde waai en 600 meter bo seevlak begin die Suidpoolvelde.”

Riana se wedloop was twee dae voordat Nico vir die 70 km aangetree het. Nico sê hy het in Riana se oë gesien sy pleit dat hy eerder nie moet deelneem nie. “Maar sy het nie ’n woord gesê nie.”

HALLUSINEER

Nico self onthou hoe hallusinasies van uitputting hom oorval het. Hy het goed soos slange in die bome gesien terwyl hy in ’n stryd teen die bittere koue, die huilende winde en die sneeu geveg het.

Eers toe het die besef deurgedring hoekom streng vereistes voor deelname aan die Ultra Fjord gestel word. Bewyse moet gelewer word van vorige tyd- en liggaamstoetse wat geslaag is. Liggaamlike fiksheid en die regte geestesingesteldheid word ook bepaal. Dit kon hulle taamlik maklik gee met deelname op Afrika-bodem aan byeenkomste soos die Suidkus se Otterroete en internasionale wedlope en bergklimtogte in Europa en die Skandinawiese lande,

Terug op Uis berei die Scholtze hulle reeds op ’n volgende uitdaging later vanjaar in Marokko voor. Dié keer gaan dit ’n toets teen ’n hoogste bergspits wees.

Dit was die vyfde jaar in die bestaan van die Ultra Fjord-veldwedloop. Jeff Browning, ’n voormalige wenner van die 100 meterkategorie vir mans, beskryf die roete as ’n magiese reis deur ysvlaktes en -mere. “Dit is vir die tafstes onder die tawwes,” sê hy.

Wat die Scholtz-egpaar benewens die wondere van die natuur opgeval het, is hoe een en almal op die bewaring van die natuur ingestel is. Die byeenkomste word reeds as ’n groot bate vir toerisme bestempel en van die deelnemers meen dit gaan die grootste uitdaag- en tydtoets in die wêreld word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer