Nederlanders help met teleskoopplanne

Die AMT moet die sogenaamde noodsaaklike “verlore skakel” in ’n wêreldwye netwerk van teleskope vorm wat swartkolke afneem.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Terwyl Nederland se Radboud Universiteit (RU) sterk finansiële en wetenskaplike ondersteuning vir die beplande Africa Millimetre Telescope (AMT) waarborg, gaan die AMT se eerste PhD-studente reeds volgende jaar met hul studies begin.

Dit om te verseker die volgende geslag Namibiërs is reeds vir die AMT voorberei wanneer die beplande teleskoop oor sowat vyf jaar realiseer.

Die Universiteit van Namibië (Unam) se woordvoerder, mnr. John Haufiku, het in ‘n webartikel vroeër vandeesweek gesê die RU waarborg 1 miljoen euro per jaar oor die volgende tien jaar vir die bestuur en gebruik van die teleskoop, asook deelname in die EHT.

EHT staan vir Event Horizon Telescope en verwys na ‘n wêreldwye netwerk van teleskope.

“Die geld sal in fases versprei word. Boonop waarborg die RU ‘n belegging van 1,9 miljoen euro vir die bou van die teleskoop self. Dit bied ‘n goeie fondament vir aansoeke om meer toelaes en beleggings,” het Haufiku gesê.

“Unam en hul plaaslike vennote is ook verantwoordelik vir die verwesenliking en bestuur van die teleskoop – iets wat unieke geleenthede vir sterrekunde in Namibië open en beteken die land kan sy eie navorsing in die veld doen.

“Ter voorbereiding van die volgende geslag Namibiërs vir die AMT, beskik die projek oor sy eie onderrig en uitreikprogram, waarvan Unam se dr. Eli Kasai een van die leiers is,” het hy gesê.

Hy sê die plan is dat die PhD-kandidate teen die somer van 2022 oraloor die land sal reis om laerskole met ‘n mobiele planetarium te besoek.

Volgens Haufiku sal die Radbound Radio-laboratorium vir die tegniese deel van die projek verantwoordelik wees, terwyl dit ondersteuning van Unam se skool vir ingenieurswese sal ontvang.

“Danksy die unieke ondersteuning van die Radbound Universiteit, raak die verwesenliking van die AMT-teleskoop vyf jaar van nou ‘n realiteit . . .” het Unam se besturende direkteur, mnr. Marc Klein Wolt, gesê.

AGTERGROND

Die beplande AMT is ‘n hipermoderne radioteleskoop wat op die Gamsberg-plato naby die reeds bekende Hess-projek opgerig sal word. Dit sal die eerste radioteleskoop in Afrika wees wat van die millimeter-golflengte gebruik maak.

Die AMT moet die sogenaamde noodsaaklike “verlore skakel” in ’n wêreldwye netwerk van EHT-teleskope wees. EHT bestaan uit teleskope wat in Suid- en Noord-Amerika, Europa en Antarktika opgerig is.

Die RU waarborg ook ‘n wetenskaplike en tegniese bydrae tot die EHT oor die volgende tien jaar.

Die eerste foto wat ooit van ‘n swartkolk geneem en in 2019 vrygestel is, kon slegs gedoen word danksy dié globale netwerk van teleskope. Die AMT in Afrika is nodig om verdere metings te verbeter en dalk selfs video’s van swartkolke te maak, het Haufiku verduidelik.

Internasionale wetenskaplikes het Gamsberg vir die AMT gekies vanweë sy hoogte van 2 350 meter bo seevlak, asook sy helder naghemel.

Verder maak Gamsberg, wat ook as Namibië se “Tafelberg” bekend staan, se ligging en droë kilmaat dit die ideale plek om die eerste hoëresolusiefoto’s van swartkolke in die ruimte te neem.

Die teleskoop sal van sonkrag, windenergie en moontlik waterstof gebruik maak om dit van die nodige elektrisiteit te voorsien. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!