Nederlanders ry snelweë plat

Op die hoofweë uit die hoofstad was die afgelope weke twee uiters suksesvolle atlete uit Nederland gesien.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Sedert hulle vroeg in Januarie in Namibië aangekom het, het die twee Paralimpiese handfietsryers van Neder­land die koppe laat draai op hul onmiskenbare spesiale fietse.

Die 42-jarige Tim de Vries en Jetze Plat (29) is beide wêreldkampioene asook medaljewenners by die 2016 Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro.

Enigeen wat hulle soggens op die B1-hoofpad in die rigting van Okahandja of Rehoboth, of ooswaarts op die lughawe- of Dordabispad op oefenritte teëgekom het, sou sommer dadelik kon raai dat jy na twee wêreldklas atlete kyk.

Saam met die veelsydige Daniel Abraham ('n Paralimpiese kwalifiseerder vir Tokio 2021 in die padresies, tydtoets én baanfietsry) en ander fietsryers en driekampatlete het 'n groepie Nederlanders soos vorige jare gebruik gemaak van Windhoek se hoogte bo seespieël om 'n spesiale voorseisoense oefenkamp te hou. Hulle keer volgende week na Europa terug.

Plat, wat met groei-afwykings in beide bene gebore is, is die heersende Paralimpiese driekamptitelhouer (PT1-klas) én bronswenner in die H5-handfietsry se padresies. Hy het ook Europese en wêreldtitels agter sy naam.



TIM SE VERHAAL

De Vries, 'n trotse pa van drie, het as jong seun gimnastiek bo sokker verkies. Hy het hom tot die tram­poliensport verbind en het vinnig opgang gemaak, totdat hy in 1997 in die aanloop tot die nasionale kampioenskap 'n tragedie beleef het.

Tydens 'n spelery tussen kompetitisies om so hoog as moontlik op die trampolien te spring, het De Vries die plafon vyf of ses meter bo die grond bereik en het ongesiens sy balans verloor.

Hy het op een been te lande gekom, wat nie net vergruis is nie, maar ook onherstelbare skade aan die senuwees veroorsaak het.

“Daar was ook bloeding in 'n slagaar en as dit was nie vir my meisie Maaike (nou my vrou) en nog 'n jong vrou met eerstehulpkennis nie, kon ek op die toneel gesterf het,” het De Vries tevore op 'n webblad geskryf.

“Hulle het my lewe gered en ek het van daardie oomblik af besluit om op my moontlikhede, eerder as my beperkinge te fokus.”

Nadat De Vries roeisport en later Paralimpiese handfietsry ontdek het, het hy 'n nuwe passie gevind. Hy het sy loopbaan as deeltydse busdrywer laat vaar en sy sportdrome voltyds nagejaag.

Hy het naelskraaps nie vir die 2012 Londen Paralimpiese Spele gekwalifiseer nie en het net op grond van 'n spesiale uitnodiging (gebaseer op sy vierde plek by die vorige jaar se wêreldkampioenskap) die 2016 Rio de Janeiro Paralimpiese Spele gehaal.

“Van die eerste aankoms by die Paralimpiese atletedorp, tot ons terugvlug na Nederland met begeleiding deur twee vegvliegtuie, was dit 'n onvergeetlike, unieke ondervinding,” sê hy.

In die tydtoets het De Vries vierde en sy landgenoot Plat sesde geëindig, met die bekende Suid-Afrikaner Ernst van Dyk vyfde. Die volgende dag in die padresies was Van Dyk eerste, Plat derde en De Vries negende, ná 'n terugslag met 'n meganiese probleem.

Terug in Nederland het De Vries se jong gesin uitgebrei en ondanks 'n kortstondige “verlies aan sportmotivering” het hy reuse-sukses behaal met drie opeenvolgende jare as wêreldtitelhouer.

By die 2017 Paralimpiese wêreldkampioen­skap in Pietermaritzburg was hy eerste in die 60.7 km padresies toe hy in 'n naelrit met dieselfde tyd as die voormalige Italiaanse Formule 1-renjaer Alex Zanardi (tweede) en Johan Reekers (Nederland) klaarmaak. In die tydtoets (23.3 km) was Zanardi net-net baas en moes De Vries met die silwer tevrede wees.

By die 2018 wêreldkampioenskap in Maniago, Italië wen De Vries die padresies en behaal silwer in die tydtoets. Die volgende jaar in Emmen, Nederland, wen hy die padresies.

De Vries skryf baie van sy onlangse sukses aan kallistenie (vrye gimnastiekoefening) toe, omdat dit sy spierbeheer verbeter.

“Vryheid is in jou kop. Solank jy doen wat jy geniet, sover dit fisieke en verstandelike verbetering betref, sal jy 'n gelukkige persoon wees. Ek kan kallistenie aanbeveel as 'n hulpmiddel tot daardie doel.”



DRIKUS MEEGEVOER

Drikus Coetzee, Namibiese tydtoetskampioen wat laas Sondag ook die padresies gewen het

“Ek het vir Tim ontmoet ná die Windhoek Pedal Power-resies op Dordabis (twee Sondae gelede). Ons het as 'n groep terug gery Windhoek toe en ek was verbaas hoe vinnig hy kan ry. Veral met die afdraande het hy soms by die 60 km/h gehaal en ek moes hard trap om by te bly.

“Tim is 'n mens met baie passie en energie. Hy straal 'n positiwiteit uit en is 'n ongelooflik inspirerende mens. Dit is 'n voorreg om hom te kon leer ken en saam met hom te kon ry. Hy laat fietsry lekker lyk deur die manier hoe hy sy passie en talent uitleef. Ek het lanklaas met iemand so 'n positiewe gesamentlike passie kon deel.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!