Nee dankie vir 'n klimtog tot by Brandberg se Königstein
Des Erasmus - Dankie vir die uitnodiging, maar nee dankie!
Dis beleef, maar beslis waarmee op ‘n versoek van Nico Scholtz, organiseerder van ‘n uitdaagreeks vir bergklimmers, gereageer word. Daar word nou gesoek na bergklimmers wat op die FKT (“fastest known time”) van Fred Zalokar van Amerika in die winter van 2015 in die Brandberg kan verbeter. Die Amerikaner wat as kliminstrukteur vir bergbobbejane kan dien, het die berg van die basis tot by die hoogste spits, Königstein, en terug na die beginplek in 8 uur 6 minute voltooi. Die spits lê 2 573 meter bo seevlak.
Nico vra hoekom nie? Die berg het vanjaar water en ‘n gids sal deurlopend die klimroete wys.
“Ek het gesê nee dankie. Nie vandag nie, nie môre nie en ook nie op 9 Junie nie. Nooit nie!”
En die vraag kom op of ‘n berg dan nog nooit geklim is nie?
Kyk die ou lyf met selfs sy groter skaduwee so en die antwoord kom in ‘n taamlike suiwer Engels: “Built for comfort, not for speed”.
Lank gelede, baie lank gelede, toe spoed en krag in hoërskool- en studentedae nog gebruis het, is berge geklim. Die Agtersneeuberge en die Spekboomberg styg daar op uit die vlaktes van onthou. Spitse en kranse was skaars in die kontrei omdat die pakkie bergkaarte bra laag was toe in die skepping daarlangs gesweef was. Daarvoor is ingestaan met die storting van ‘n oormaat van vrede in die vallei.
Spekboomberg was net een keer tot bo geklim, met juis die natuur wat halfpad op die onderbrekings afgedwing het. Soos die dag toe die mooie Suna se skoen daar teen die eerste hange gebreek het. Iemand moes by haar bly. Dit was ek. Sit-sit en baie stadig is afgeklim in ‘n samesyn van net een dag wat nog maande lank sou voortduur. Wonder soms op watter strande die lewe die nooientjie uitgespoel het.
Later was onder die Heuningkrans ‘n gewilde plek van oordenking. Reëntye het ‘n stroompie teen die steil wand ‘n skoon sandstrook geskep met ‘n swarter sliert van die yster wat uit die klip gevreet is. Daar was in die skaduwee van ‘n soetdoringboom gesit met stokkiesmanne wat met ‘n droë takkie in die sand geteken was. Grote boom van ‘n kleine saad wat daar ‘n spleet vir groei gevind het of ‘n sagte stammetjie van onder tydsaam ‘n rotsblok gekloof het vir vir ‘n boom en hierdie rusplek teen die son. Teen die klam wand van die krans het bergkweek kom skuil en welig in die sand gerank. Miskien was juis dit die rede vir die steenbokspoor. Die muisnes ‘n entjie laer af was ook die plek waar die dike pofadder bly. Doer ver onder was die oopgespalkte vlakte “so wyd soos die Heer se genade”.
Die een keer tot bo is op die plato op die ribbokke afgekom - ram, ooi en lam rustig wat geen gevaar gevrees het nie. Dit was die dag toe die geweer neergesit is. Al onderbreking was die brandwagstaner van die Witkrans wat dan en wan sy onrus met sy bôgom verkondig het.
Net een keer is tot by die spits van die Agtersneeuberge geklim. Vandag nog te moeg om te onthou. Die Pieke en die hange van Tafelberg in die studentedae.
Hier te lande ook die Brandberg, maar nie vir die klim mie. Soos die oggend hier op die herberg se stoep voordat die fisant se roep en ‘n olifant se enkele trompet die dag laat breek het. Die Brandberg se son kom stadig op met die eerste strale wat tonnels na die ravyne boor. Uiteindelik word dit teen die hange ‘n kleurespel soos van ‘n reënboog voordat die kollig uit die hemel ook die volle berg kom wys.
In ‘n gemakstoel by my skuilplek kom ‘n versugting.
God is groot!
“Dis waar ek wil wees,” sê ek menend vir Nico.
Net om met die omkykslag vas te stel hy is lankal weg.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie