Nee vir donkieslagpale, su00ea Damaras
Nee vir donkieslagpale, su00ea Damaras

Nee vir donkieslagpale, sê Damaras

Vrylopende donkies kan maklik gesteel en verkoop word.
Tanja Bause
Tanja Bause - Donkies moet geregistreer word en oormerke kry sodat hulle op dieselfde vlak as beeste en skape is.

Kom daar wél 'n donkieslagpale, sal dit 'n aanvraag na dié diere skep en sodoende hul waarde verhoog.

“Mense gaan begin om donkies te steel en die eienaars gaan geen bewyse hê om te wys die donkie behoort aan hulle nie,” sê mnr. Abner Xoagub van die Donkib (||îb) Ge-kultuurgroep.

Die groep is in 2011 gestig om na die belange van Namibië se donkies om te sien.

“Donkies het geen oormerke nie en hulle loop orals rond. Die diere kan gesteel en verkoop word, sonder dat die eienaar grond onder die voete het. Mense kan die donkies oplaai en iemand vir die dier betaal. Omdat die diere egter nie brandmerke het nie, kan enigiemand sê dit is hulle s'n en die geld vat.”

Volgens Xoagub speel donkies in veral landelike gemeenskappe 'n groot rol. Die diere word onder meer gebruik om water te gaan haal, lande te ploeg en ook om mense te vervoer.

“Neem as voorbeeld 'n familie wat vier donkies het wat gebruik word om te ploeg en water te gaan haal. Moet die kinders skool toe of iemand kliniek toe, word die diere voor die donkiekar ingespan. Skielik verhoog die aanvraag na donkies met die voorgestelde slagpale op Outjo. Die donkies word gesteel en die familie kan nou nie meer hul veld ploeg en water gaan haal nie én hul vervoer is weg. Die familie verval dus in armoede,” verduidelik Xoagub.

Volgens hom gaan die slagpale en die werkskepping wat daarmee gepaard gaan armoede slegs tydelik verlig.

Tans is daar sowat 200 000 donkies in die land, terwyl die slagpale 70 per dag wil slag.

“Dit maak nie sin nie, ons gaan die donkiebevolking uitwis as ons dit toelaat. Nêrens het Fu Hai Trading Enterprises CC, die maatskappy wat die slagpale wil bou, gesê waar hulle die donkies vandaan gaan kry nie. Wie is hul verskaffers?” vra Xoagub.

“Ek en my volk, die Damaras, het nog altyd donkies geëet en ons kon nog nooit al die donkies opeet nie. Word daar 'n donkie vir die plaaslike mark geslag, het ek nie 'n probleem nie. My probleem is met 70 wat per dag vir die Chinese mark geslag word.”

Volgens hom moet die vulletjie ses maande by die ma bly. 'n Donkie moet ook ouer as twee jaar wees voordat hul velle groot genoeg is om na China uitgevoer te word vir die vervaardiging van ejiao.

Ejiao word uit die gelatien van die donkievel gemaak en is 'n harde jellie wat in warm water of alkohol opgelos word. Dit word in kos of water of in kosmetiese middels soos gesigroom gebruik. Ook word geglo dit verbeter bloedsirkulasie, help met voortplantingsprobleme en word gebruik deur mense met bloedarmoede en lae bloedseltellings.

“Hoekom moet ons ons donkievelle na China uitvoer? Hoekom kan ons nie die ejiao hier vervaardig en dan na China uitvoer nie? Dit is waardetoevoeging en werkskepping. Ons moet uit die boks begin dink en nie net ons rou materiale uitvoer nie.”

Volgens Xoagub het China se donkiebevolking sedert 1990 drasties weens die slag van die diere afgeneem. Afrikalande soos Niger en Burkina Faso het die uitvoer van donkievelle na China ook volgens hom verban weens die skerp afname in donkie­bevokings en die toename in die diefstal van gesteelde diere wat verkoop word.

“Kan ons nie uit ander Afrikalande en hul foute leer nie? Hulle het reeds bewys dit maak nie sin nie en benadeel die armes. Moet ons dit eers toelaat en te laat besef dit was 'n fout?”

Volgens Xoagub is hy nie teen die slagpale nie, maar is die tyd daarvoor nie ryp nie.

“Die Outjo-munisipaliteit moet eerder grond vir die oprigting van 'n teelplaas vir donkies gee. Ons kan dan oor 'n paar jaar weer na die slagpale kyk. Die regering moet eers regulasies vasstel sodat donkies geregistreer word. Honde word dan in Windhoek geregistreer en kry 'n merk wat die eienaar bevestig. 'n Landswye ondersoek moet gedoen word oor hoeveel mense tans uit die donkies voordeel trek en hoeveel mense se lewensbestaan afhanklik is van die diere, alvorens hulle net die huidige bevolking begin slag en uitwis.”

Volgens hom het ander nasies die renosters in hul lande uitgewis en moet daar nou gevolglik baie geld bestee word om die diere te bewaar en te beskerm.

“As ons nie nou opstaan en ons donkies beskerm nie, gaan ons oor 'n paar jaar baie moet bestee daaraan om die diere te beskerm.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!