Neeef op dreef
Denver Kisting - Die kabinet het die hersiene Nuwe Wetsontwerp vir Gelyke Ekonomiese Bemagtiging (Neeef) en die konsepwetsontwerp in beginsel goedgekeur.
So het die minister van inligting en kommunikasietegnologie, mnr. Stanley Simataa (foto), vanoggend tydens ’n nuuskonferensie in Windhoek gesê.
Hy het voorts gesê die kabinet het die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, gemagtig om die wetsontwerp aan die kabinetkomitee gemoeid met wetgewing voor te lê voor dit in die Nasionale Vergadering (NV) ter tafel gelê sal word.
Oor die belangrikheid van Neeef, het pres. Hage Geingob vroeër gesê swart Namibiërs gaan steeds weens die verlede gebuk onder ekonomiese ellende.
As gevolg hiervan is dit noodsaaklik om regstellende ingrypings gedurende die oorblywende tydperk van die Harambee-welvaartsplan in werking te stel, het die staatshoof toe gesê.
Hy het ’n Wêreldbankstudie aangehaal wat bevind het Namibië bly een van die lande met die hoogste inkomsteongelykhede ter wêreld. Hoewel die land sedert onafhanklikwording in 1990 goeie vordering getoon het ten opsigte van die verlaging van armoede het inkomsteongelykhede kwalik tydens dié tydperk afgeneem, het hy gesê.
[email protected]
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie