'Neem soewereiniteit in ag'
'Neem soewereiniteit in ag'

'Neem soewereiniteit in ag'

SADC se nuwe voorsitter het onder meer uitgewei oor die organisasie se rol teenoor lidlande.
Augetto Graig
Augetto Graig - Besluite van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) is wel nie afdwingbaar nie, maar 'n mens moet onthou dié liggaam bestaan uit 'n groep soewereine lande.

So sê president Hage Geingob, wat die naweek voorsitterskap van die streeksorganisasie oorgeneem het.

Hy het Saterdag by dieselfde geleentheid, ná die amptelike afsluiting van die 38ste vergadering van staatshoofde en leiers van die 16 lande in Windhoek, ook die versekering gegee dat die SADC-tribunaal weer gevestig sal word.

“Dié hof is nie afgeskaf nie; dit word hervorm,” het Geingob gesê. Ook dat dié proses vorder, met die protokol vir toekomstige verhore wat reeds deur die staatshoofde aanvaar is. “Die hof sal nou fokus op geskille tussen lidlande.

“Voordat burgers hul leiers hof toe sleep, moet ons almal eers volwasse raak,” het Geingob gesê.

“Kyk na die regsvoorskrifte. 'n Mens kan nie sonder bewyse beweer iemand is korrup nie. Die tribunaal sal weer ingestel word en met behoorlik gedefinieerde grense. Burgers kan nie net by die hof instap en klagte indien nie.”

Die tribunaal was eens die hoogste beleidsinstansie van SADC nadat dit in 2005 in werking gestel is.

Een van die merkwaardigste besluite geneem deur die tribunaal was in 2008 om Zimbabwe te verhoed om die kommersiële boer mnr. Mike Campbell se grond sonder vergoeding af te neem.

Die besluit is deur Zimbabwe verwerp, en dit het later daartoe gelei dat die tribunaal in 2012 deur die gesamentlike staatshoofde geskors is.

Geingob het ook geantwoord op vrae in verband met die nuutste SADC-lid, die Unie van die Comore-eilande. Hy sê dié land het jare gelede, voor die onlangse poging tot 'n staatsgreep daar, aansoek gedoen en is laas jaar toegelaat as lid.

“Hulle het vandag hul plek ingeneem. SADC-lande moet hul huis in orde hê, maar dit is beter om hulle te help as hulle lede is en ook SADC se plig om hulle te help.”

Wat betref die Demokratiese Republiek die Kongo en die verwagte verkiesing daar, sê Geingob SADC kan steun bied, maar nie vrede skep nie. “Die mense in die land is dié wat demokrasie moet wil hê en vrede daarvoor moet skep.”

Kongo se president, Joseph Kabila, het 'n afskeidstoespraak gedurende die beraad gelewer.

Volgens Geingob sal Kabila nie in die verkiesing meeding nie. "Vir ons is dit goeie nuus,” het hy gesê. "Die Kongolese mense het hul probleme opgelos om verkiesings te kan hou."

Die moontlikheid dat Zimbabwe se howe nie president Emmerson Mnangagwa se verkiesing gaan bekragtig nie, is volgens Geingob 'n brug wat Zimbabwiërs sal oorsteek as hulle daar kom.

“As dit nietig verklaar word, sal daar nuwe verkiesings gehou word? Kom ons wag en kyk. President Mnangagwa is duidelik oor sy idee van vrede. Al gebeur wat ook al, moet vrede in Zimbabwe heers. Ons moet die mense help, maar dit is húl land en hulle moet hul eie probleme oplos,” het Geingob gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer