Negatiewe houding krap verdedigingsminister om
Negatiewe houding krap verdedigingsminister om

Negatiewe houding krap verdedigingsminister om

Die bedrag geld wat hulle ondanks die ekonomiese ellende ontvang het, steun die erns waarmee verdediging bejeën word, sê die verdedigingsminister.
Denver Kisting
Denver Kisting



Die minister van verdediging, mnr. Penda ya Ndakolo, sê sommige Namibiërs se negatiewe houding jeens dié ministerie se begroting is teleurstellend.

Toe hy verlede week sy ministerie se begrotingspos in die ­Nasionale Vergadering (NV) gemotiveer het, het hy gesê: “Dit wil voorkom asof sommige oorde in ons samelewing skynbaar dink dat dit iets opsioneel is, terwyl die meeste van ons en die regering die noodsaaklikheid van ons verdedigingsmag verstaan.”

Dít, sê hy, is 'n wanopvatting omdat die Namibiese weermag (NDF) 'n grondwetlike liggaam is. “Namibië het bewustelik, ten tye van die skryf van die Grondwet, besluit om 'n ministerie van verdediging en 'n verdedigingsmag te hê om die grondgebied en die nasionale belang te beskerm,” lui sy 24 bladsy lange motiveringsrede.

Dié konstitusionele mandaat is steeds van krag, het hy beklemtoon.

Glo dit of nie, sê Ya Ndakolo, “Namibië het 'n verdedingsmag nodig omdat dit 'n baie ­belangrike rol speel in die sosioëkonomiese­ ontwikkelingsagenda van ons land deur ons territoriale integriteit, ons mense en ons nasionale belange te beskerm”.

Hiernaas waak die weermag ook oor die vrede en bestendigheid wat die land tans geniet, het die minister aan die Huis gesê.

Die land skiet dalk tekort wat militêre bates en vermoëns betref, sê Ya Ndakolo, “maar die seuns en dogters van Namibië in uniform is gereed om groot opofferings te maak ter verdediging van ons vaderland. Daar bestaan geen twyfel nie dat hulle oor die wilskrag en toewyding beskik om Namibië te verdedig ongeag die omstandighede.”

'n Ander belangrike rol wat die weermag volgens Ya Ndakolo speel, is om gedurende tydperke van vrede militêre bystand aan burgerregteorganisasies te verleen. Byvoorbeeld, sê hy, sit hulle hand by by die land se teenstroperypogings, wat ten doel het om die land se wildlewe te bewaar.

Daarnaas, sê hy, help hulle ook die polisie en ander wetstoepassers om wet en orde te handhaaf, sê hy.

Die weermag en die polisie het in die spervuur beland nadat hulle glo verlede naweek ver­skeie burgers in Windhoek aangerand het.

Menseregteorganisasies, soos die Regshulpsentrum (LAC), het hieroor vuur gespoeg.

Pres. Hage Geingob het albei liggame se base Staathuis toe ontbied om te gaan verduidelik wat gebeur het.

Dié liggame het sedertdien 'n hoëvlakondersoek van stapel gestuur.

Te midde van die knellende ekonomie moet die land bereid wees om opofferings te maak om te verseker die NDF is goed genoeg toegerus, meen Ya Ndakolo. “Sommige mense sê Namibië het nie 'n verdedigingsmag nodig nie omdat daar geen oorlog is nie. Ek bedoel, komaan, jy wag nie vir 'n oorlog om te begin om 'n verdedigingsmag te vestig nie.”

Ya Ndakolo het verlede week die NV gevra om die meer as N$5 miljard goed te keur wat vir die huidige begrotingsjaar toegeken is. Dié bedrag is 'n raps minder as die N$6 045 639 000 en N$6 084 115 000 wat in onderskeidelik 2017 en 2018 aan die ministerie van verdediging toegeken is.

Ya Ndakolo sê omdat sy ministerie ook die ekonomiese byt voel, gaan hulle hou by die kostebesparingsmaatreëls waartoe hulle hul verlede jaar verbind het.

Dié planne sluit verpligte verlof vir sommige soldate, die uitstel van werwing van nuwe soldate en groot militêre oefeninge in, het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer