Nel van Greunen Saterdag te ruste gelê

'n Filmmaker, webtuiste-ontwikkelaar, grafiese kunstenaar en vele meer. Dit is hoe vriende van Nel van Greunen hom onthou nadat sy lewe verlede naweek tragies tot 'n einde gekom het.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn

Die lewe van ‘n groot gees in die Namibiese medialandskap, Nel van Greunen, word Saterdagoggend om 09:00 in die Suiderhof NG-kerk herdenk.

Geskokte en treurende familie en vriende was by Nel se ouerhuis in Windhoek bymekaar toe Republikein besoek afgelê het om meer uit te vind oor die merkwaardige, skeppende jong man wat in sy kort lewe diep spore getrap het en ‘n lewende erfenis nalaat.

Nel is op 18 Junie 1984 op Otjiwarongo gebore en sy lewe is Saterdag 15 April 2017 in die vroeë oggendure op die jagplaas Wildacher, 179 kilometer van Grootfontein, in ‘n tragiese voertuigongeluk beëindig.

Nel sal veral onthou word vir die webtuiste www.namlish.com en die handelsmerk en kopiereg van die Namibië- handteken wat aan hom behoort het en nou sy nalatenskap is.

Sy broer Wilke, meisie Natalia Micillo en vriende Renier de Bruyn en Cuan Geyser, beskryf Nel as ‘n gerekende fotograaf, webtuiste-ontwerper, grafiese kunstenaar, ‘n filmmaker, ‘n avonturier en entrepreneur met ‘n groot liefde vir die veld en die natuur. “Nel was lief vir die lewe. Hy was ‘n ou wat altyd die regte ding wou doen en altyd daar was om enige iemand in nood uit te help,” vertel Renier. “Hy was ‘n regverdige mens, ‘n goeie mens.”

Cuan sê op sy beurt: “Wanneer dinge op die slegste is, is dit die tyd wanneer ‘n mens mense om jou nodig het en Nel was daardie persoon wat altyd daar was.” Sy boetie Wilke, vir veel bekend as Nel se "mini-me", vertel dat Nel 'n praktiese man was wat hard gewerk het met sy groot hande. "Hy was sy ouers se seun, sy vriende se broer en my beste vriend met die grootste sagte hart."

Natalia vertel hoe georganiseerd hy was en dat hy ook verskeie goed wat vir hom baie belangrik was, versamel en spesiaal gebêre het. Sy vertel verder hoe Nel in mense se lewens ingekom het wanneer hulle regtig iemand nodig gehad het; Nel was haar redder soos hy vir verskeie vriende en vreemdelinge was.

Passie vir natuurbewaring

Nel was passievol oor natuurbewaring, veral die bekamping van wildstropery, en ‘n spesiale veldtog waarvoor hy videomateriaal sou skiet en redigeer, sou in Augustus vervaardig word. Hy het die voordele van beheerde en gekontroleerde jag en die verband met natuurbewaring verstaan. Benewens promosievideo’s vir jagplase was Nel van voorneme om hom ook as professionele jagter te bekwaam.

Falko Schwartz, ‘n professionele jagter met wie Nel nou saamgewerk het, skryf in sy huldeblyk: “Ons het ‘n passie vir die buitelewe en ‘n liefde vir Namibië se wildlewe gedeel. Toe ek hom vertel het van die volhoubare benutting van wild deur trofeejag, was hy baie entoesiasties en het by ons program ‘Jagters verenig teen wildstropery trust’ aangesluit. Hy wou help om mense se denkwyse te verander en hulle wys dat jag ‘n manier is om ons natuurlewe te beskerm.

“Hy het begin om die Huap Trust met sy kennis van sosiale media en internet-aanbiedinge by te staan. Hy het Namibië se natuur en die probleme wat ons ondervind, verstaan,” sê Falko. Benewens al sy ander bedrywighede, was Nel ook besig met die ontwikkeling van verskeie webtuistes.

Hierdie drome is Saterdag tragies beëindig.

Nel het Saterdag 8 April op Wildacher aangekom waar hy ‘n promosievideo vir die plaas sou vervaardig. Hy was veronderstel om Vrydag 14 April na Windhoek terug te keer, maar iets het voorgeval en hy het besluit om vroeg Saterdag van die plaas af te vertrek.

In die vroeë oggendure het Nel en die bestuurder van Wildacher, Dawid Muller (jr.), in Dawid se bakkie die veld ingery om nagfoto’s te neem. Op een van die plaaspaaie het die ondenkbare gebeur. Etlike ure later het die professionele jagter op die plaas op die ongelukstoneel afgekom. Nel is op slag dood. Dawid is steeds in ‘n koma in die hospitaal in Windhoek.

“Met Nel se dood het ons ‘n ware vriend en werklike natuurbewaringsbewuste verloor,” sê Falko.

Saterdag sal Nel se ma, Jani, en pa Frikkie, sy oudste broer Frikkie (jr.), en jongste broer Wilke, sy meisie Natalia, sy Oupa (94) en Ouma (83), familie van oor Namibië en Suid-Afrika en Nel se vele vriende en mense wie se lewe hy geraak het, afskeid neem, maar hul herinneringe van hierdie merkwaardige jong man sal vir ewig in hul harte voortleef.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!