Nelson Mandela-stigting: Zuma moet bedank
Nelson Mandela-stigting: Zuma moet bedank

Nelson Mandela-stigting: Zuma moet bedank

Die voorsitter van die stigting sê die Suid-Afrikaanse president het nie gesag vir die Grondwet nie.
Pres. Jacob Zuma moet na die stemme van Suid-Afrikaners luister en bedank – dít is die boodskap van die Nelson Mandela-stigting.

“Vandag is dit duidelik ons land se konstitusionele demokrasie word bedreig en sy politieke prosesse is in 'n krisis,” het prof. Njabulo Ndebele, voorsitter van die stigting se kuratorium, Woensdag gesê.

“Ons doen 'n beroep op hom [Zuma] om na die stem van die mense te luister. Sy taak om die geskenk te bewaar, te beskerm en te verdedig, het onherstelbaar gewankel.”

Ndebele het gesê die ANC moet probleme intern oplos vir die party om rigting te hê.

Hy het bygevoeg die grondwetlike aanspreeklikheid van regeringsamp­tenare is weggevreet.

Ndebele het gesê die land het leiers wat nie vir gesag, die Grondwet of visie van die land omgee nie.

“In plaas daarvan gebruik en misbruik hulle die konstitusionele staat om parallelle magsbasisse te bou en rykdom skaamteloos vir hulself en hul netwerke te bekom.

Die stigting het gesê vir Zuma om na Suid-Afrikaners te luister, sal 'n teken wees dat hy 'n diep respek vir hulle behou het.

“'n Leier wat ook 'n demokraat is, sal luister na sy of haar mense. As hy 'n goeie gewete het, sou hy nie in ballingskap vlug nie.”

Die stigting het gesê hy is gekant teen die “aanhoudende aanslag op die Grondwet”.

Die kuratorium het die dringende instelling van 'n regterlike kommissie van ondersoek om staatskaping oop te vlek, verwelkom.

“Ons raai Suid-Afrikaners aan om bedagsaam te wees teen wat slegs as die gevangeneming van demokrasie genoem kan word.”

Sello Hatang, uitvoerende hoof van die stigting, het Suid-Afrikaners aangemoedig om nie te vergeet wat in 2007 gebeur het nie.

Hy sê in 2007 het die ANC daarop gefokus om die leier te verwyder sonder om te kyk na stelsels wat moet verander.– Netwerk24/News24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer