Nersa dreig met eie ondersoek by Eskom
Nersa dreig met eie ondersoek by Eskom

Nersa dreig met eie ondersoek by Eskom

Die buurland se nasionale energiereguleerder het aanbeveel dat Eskom sy koste sny en binne ses maande ’n plan daaroor voorlê.
Karin Eloff
Francois Williams – Nersa het Donderdag gewaarsku hy kan sy eie ondersoek na die bestuursfoute by Eskom instel. Hy kan dan aanpassings in Eskom se inkomste aanbring gegrond op die uitslag van sy ondersoek of dié van ander entiteite soos Eskom self, die nasionale tesourie, die spesiale ondersoekeenheid, die Valke, die parlement of enige kommissie van ondersoek.

Jacob Modise, voorsitter van Nersa, het ook Donderdag aanbeveel dat Eskom sy koste sny en binne ses maande ’n plan aan Nersa voorlê oor hoe hy dit gaan doen. Eskom moet sy onbeplande kragonderbrekings verminder, sy watergebruik verminder en ’n instandhoudingsplan opstel.

Eskom moet ook beurtkrag verminder, sy energiebeskikbaarheidsfaktor verbeter, ’n plan indien hoe die foute by die kragstasies Kusile en Medupi reggestel gaan word, en planne voorlê hoe die kragstasies en kragopwekkingseenhede wat die meeste tot beurtkrag bydra binne vier maande reggeruk gaan word.

Nersa vra Eskom moet sy batewaarde aanpas op grond van die kragstasies en eenhede wat nie meer werk nie, en wat al vir twee jaar onaktief is omdat dit wag vir opknapping en vervanging van onderdele.

Sleg vir ekonomie

Die verhoging van 9,4% wat die energiereguleerder (Nersa) aan Eskom toegestaan het is slegte nuus vir die ekonomie in dié stadium, sê prof. Raymond Parsons van die Noordwes-universiteit se sakeskool.

Die 9,4% verteenwoordig sowat 60% van wat Eskom wou hê en is sowat 50% meer as inflasie.

Die netto impak van die verhoging vir munisipale kragverbruikers is boonop nog meer, want munisipaliteite voeg gewoonlik hul gebruiklike winsmarges by.

Die 4,4%-verhoging wat Eskom reeds verlede jaar vir vanjaar ontvang het, moet boonop nog by die jongste verhoging bygetel word.

Nersa moes die verhoging op die meeste op die inflasiekoers vasgepen het, meen Parsons. As dit gekombineer word met ander kostestygings in die ekonomie asook die voortdurende impak van beurtkrag, sal die buitensporige styging in elektrisiteitstariewe sowel verbruikersbesteding as sakekoste verhoog.

Die besluit kom in ’n tyd waarin die ekonomiese herstel traag en onderbroke bly, waarsku Parsons.

Die vooruitskattings vir ekonomiese groei vir 2019 sal nou moontlik tot 1,3% verlaag moet word vergeleke met die 1,5% wat die nasionale tesourie in die onlangse begroting geraam het.

Parsons glo die styging in die kragtariewe wys wat verkeerd geloop het by Eskom. Nersa se plan om verdere forensiese ondersoeke by Eskom te doen word dus verwelkom. Dit beklemtoon waarom die herstrukturering van Eskom om sy bestuurs-, bedryfs- en finansiële probleme reg te stel dringend bly, sê Parsons. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer