Net 10% van SA huise sal kan rugby kyk
Net 10% van SA huise sal kan rugby kyk

Net 10% van SA huise sal kan rugby kyk

Petrus Malherbe – Net 10%, oftewel 1,5 miljoen Suid-Afrikaanse huishoudings, sal op televisie na die Wêreldbeker-rugbytoernooi (WB) kan kyk. Dit is hoeveel van Suid-Afrika se sowat 14,5 miljoen huishoudings toegang het tot DStv se duurste pakket – die enigste platform waarop die rugby uitgesaai gaan word.

Onderhandelinge tussen die SAUK en SuperSport, wat die eksklusiewe uitsaairegte besit, het ’n dooie punt bereik, het albei partye bevestig.

Dit beteken dat geen wedstryd gratis op enige van die SAUK se televisiekanale uitgesaai sal word nie.

Vuyo Mthembu, waarnemende woordvoerder van die openbare uitsaaier, sê by navraag die SAUK was in gesprekke met MultiChoice oor ’n uitsaailisensie, maar dit was doodeenvoudig te duur.

“Daar sou geen opbrengs op die belegging gewees het vir die uitsaaier nie,” sê sy.

Die televisieregte vir die toernooi sou die SAUK $28 miljoen (sowat R413 miljoen teen Dinsdag se wisselkoers) gekos het, terwyl die radio-uitsaairegte $60 000 (sowat R885 000) sou beloop. Dit sluit die produksiekoste van sowat R900 000 uit.

Madoda Mxakwe, groep- uitvoerende hoof van die SAUK, het Dinsdag aan LP’s gesê dié pryse was “net buitensporig”.

Joe Heshu, groephoof van korporatiewe sake van MultiChoice, sê die SAUK het ’n aanbod gemaak om van die wedstryde uit te saai, maar ’n ooreenkoms kon nie bereik word nie.

“Die openbare uitsaaier het die aanbod teruggetrek weens beperkings op sy begroting en probleme met skedulering.”

Die plaaslike uitsaairegte van wedstryde op radiostasies word nie deur MultiChoice besit nie, sê Heshu.

Daarvoor moes die SAUK met ’n derde party onderhandel.

“Ongelukkig kon ’n ooreenkoms ook nie daar bereik word nie,” sê Mthembu.

Dit beteken WB-wedstryde gaan slegs op SuperSport 1 uitgesaai word. Hierdie kanaal is net beskikbaar op DStv se duurste pakket wat minstens R809 per maand kos.

MultiChoice moes etlike miljoene rande betaal om die uitsaairegte van die WB-toernooi in sowel Suid-Afrika as die res van Afrika te bekom.

Luidens sy resultate vir die jaar tot einde Maart het DStv 1,5 miljoen Suid-Afrikaanse intekenare op sy premiumpakket.

Net 7,4 miljoen Suid-Afrikaners het DStv, maar die meeste daarvan is op goedkoper pakkette met kanale wat geen sportwedstryde uitsaai nie.

Ook nie Showmax, MultiChoice se afsonderlike stromingsdiens, gaan enige beeldmateriaal van die toernooi uitsaai nie, het ’n woordvoerder bevestig.

Showmax het vroeër vanjaar begin om sport regstreeks op sy platform uit te saai.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het by navraag gesê die kwessie van uitsaairegte berus by MultiChoice en die SAUK, maar het bygevoeg hy is teleurgesteld dat nie meer kykers die Springbokke se vordering sal kan volg nie.

“Wêreldbekerrugby word sedert 1995 op die SAUK uitgesaai, en nes ander groot sportgebeurtenisse staan die nasie saam agter die nasionale span.”

Debat oor uitsaairegte

’n Debat oor die uitsaairegte van “groot sportgebeure” duur reeds ’n geruime tyd. Suid-Afrikaners raak toenemend boos dat belangrike rugby-, krieket- en tenniswedstryde net op betaalkanale soos SuperSport te sien is.

Voorgestelde wetgewing is reeds in 2018 ter tafel gelê wat die hoeveelheid eksklusiewe inhoud wat ’n televisienetwerk mag aankoop, sal beperk.

Dit word gedoen in die hoop om MultiChoice se uitsaairegte-monopolie te verbreek.

Daar is egter nie ’n sterk genoeg mededinger wat ook die peperduur regte vir sportwedstryde kan bekostig nie.

Die SAUK se verlies vir die 2018-’19-boekjaar beloop reeds R483 miljoen. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer