Net Chinese tender vir kragprojek
Net Chinese tender vir kragprojek

Net Chinese tender vir kragprojek

Nie een van die vorige tenderaars vir die Ruacana-Omatando-kragprojek, is in die nuwe tenderwedloop nie.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Slegs Chinese maatskappye het tydens NamPower se tweede tender-poging vir die bou van ’n nuwe substasie by Ruacana en die verlenging van die 400kV-kraglyn vandaar af na die bestaande Omatando-substasie naby Ongwediwa, aanbiedinge ingedien.

Dit volg nadat die oorspronklike tender, wat in omstredenheid gedompel is toe dit aan Conco Namibia toegeken is en kort daarna in die hoërhof gedraai het, vroeër deur die Sentrale Verkrygingsraad gekanselleer is.

Conco Namibia is ’n Suid-Afrikaanse maatskappy waarin dr. Leake Hangala, ’n voormalige besturende direkteur van NamPower, ’n 20%-aandeel het.

Dit is op 13 November verlede jaar opnuut geadverteer.

Volgens die nuuste uitgawe van die Tender Bulletin het drie Chinese maatskappye op 26 Februarie toe die tender gesluit het, aanbiedinge ingedien.

Hulle is Sinohydro Corporation/Adaptive Building Land Construction in vennootskap (JV) teen ’n koste van sowat N$340,8 miljoen, China Gezhouba Group International Engineering/China Gezhouba Group wat sê hulle kan die projek vir N$423,7 miljoen doen en laastens Shanghai Electric Company Group wat ’n tender van N$500,2 miljoen ingedien het.

Dit blyk uit inligting op NamPower se webtuiste die projek bestaan uit die oprigting van ’n substasie suid van die Ruacana-kragstasie. Dit sal vir 400kV gebou word, maar aanvanklik as ’n 330kV-substasie gebruik word.

Van daar af word ’n 400kV-kraglyn dan na die bestaande substasie by Omatando aangelê om die voorsiening van elektrisiteit aan Oshakati, Ondangwa en omtrekke te verbeter.

Dié lyn vorm deel van ’n groter noordelike 400kV-eletrisiteitsvoorsieningsprojek waarvan die beplande hidroëlektriese kragstasie by Baynes later deel sal wees.

Die tender van N$600 miljoen is in 2016 deur Consolidated Power Projects of Namibia (Conco) voor die neuse van Siemens en Alstom Grid SAS Solutions, in vennootskap (JV) met Radial Truss Industries, weggeraap.

NamPower se vorige direksie onder voorsitterskap van me. Maria Nakale-Gaomas, het ’n stokkie vir die toekenning daarvan aan Conco gesteek en aangevoer ’n konflik van belange as rede aangevoer.

Mnr. Jürgen Senke, ’n voormalige senior bestuurder van projekbestuur en implementering by NamPower, het hom by Conco aangesluit terwyl die tender in die proses was om geëvalueer te word.

Hy was vroeër met die voorbereiding van die tenderdokument gemoeid.

Conco het hom ná die kansellering van die tender tot die hoërhof in Windhoek gewend en op 6 Desember 2017 is gelas die aanbiedinge deur Conco, Siemens en Alstrom moet deur die komitee gefynkam en beoordeel word.

’n Tenderbeoordelingskomitee is op 29 Junie 2018 ingevolge Artikel 26 van die Wet op Openbare Verkryging aangestel om die tenderproses in te ondersoek en te evalueer.

Conco se tender het destyds N$231 miljoen beloop, terwyl Siemens vir N$496 miljoen en Alstom vir N$449 miljoen getender het.

Die komitee het later in ’n evalueringsverslag aanbeveel dat die tender aan Alstom Grid SAS Solutions toegeken word, aangesien Siemens aangedui het dat hy nie meer in die projek belangstel nie, het The Namibian in 2019 berig.

Die komitee het bevind dat Conco in sy aanbieding afgewyk het van die tendervereistes wat deur NamPower gestel is, is berig. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer