• Tuisblad
  • Menings
  • Net dalk kom ‘n dag wanneer die waarheid aanstoot gaan kry
Net dalk kom u2018n dag wanneer die waarheid aanstoot gaan kry
Net dalk kom u2018n dag wanneer die waarheid aanstoot gaan kry

Net dalk kom ‘n dag wanneer die waarheid aanstoot gaan kry

Des Erasmus
Des Erasmus - Die soetkoek gaan nie sonder meer opgevreet word nie, as die spek moet skiet, moet dit in die pan gebeur. Vir die enkele dag in die jaar bestaan die segswyse van “glo my vry” nie môre nie. “True’s njannies” is môre ‘n ydele en niksseggende begrip. “On my Girl Guide honour” met die hand op die gespe beteken ook niks. Nog minder as “so waar as wat padda die manel dra”.

Die Boek spreek hom duidelik in gevleuelde en gerespekteerde woorde uit. “Moenie vrees nie, glo net.” Môre is dit net mooi andersom. “Moenie glo nie, vrees net.”

Môre is dit 1 April, elke jaar se gekkedag. Dis die dag wanneer die leuen met die status van die waarheid beklee word. Vir ‘n koerantman is dit ‘n dag van smarte. Talle nuuswenke stroom in, maar bitter min slaag die toets van die waarheid. So erg klink van die goed dat dit wel ondersoek moet word, want net dalk is dit waar. Sou een daarvan waar wees en jy het niks daaromtrent gedoen nie, kom staan ‘n nuusredakteur met gebalde vuiste op sy heupe voor jou.

“Jy’t geweet en niks daaromtrent gedoen nie . . . Hoekom nie? Het jy al gehoor van ondersoek alle dinge? Nee, jy’s mos dom, dik en difficult. Daarom . . . ”

Daai slotwoord ken meeste van die nuushonde nie, want wanneer die “boss” by daai gedeeltetjie kom, het hulle reeds lankal weggehardloop.

Gekkedag is miskien ‘n skepping van die taalfundi’s. Dis iets wat jou vir die gek hou. Persoonlik word meer van die term April-grappie gehou. Dit moet lig wees en nie ter kwetsing van die slagoffer(s) daarvan nie. In so ‘n grappie moet ook ‘n leidraad wees wat op die gekskeerdery dui.

Uno is in oorsprong ‘n woord vir die syfer "1". Sou mnr. Uno April môre ‘n verordening uitreik dat Saterdag voortaan ‘n werksdag gaan wees om vir die verlore ure van al die jare van wintertyd te vergoed, kan jy maar weet dis ‘n April-grappie. Die geurtjie van die grappie is in die naam "Uno April". Dis ‘n onskuldige poets wat gebak word.

‘n Voorbeeld van ‘n poets kom uit die Oos-Kaap. By ‘n stasie genaamd Conway was ene Jones ‘n gewilde Engelsman met ‘n boerehumor en ‘n bakker van poetse. Toe koning Jors doer in die jare veertig of vyftig ‘n besoek aan Suid-Afrika bring en in die bloutrein toer, was sy wens toe glo dat hy by die Conway met een van die mense van die kontrei wou gesels. Die boodskapper van die boerevereniging het die tyding gebring dat Jors ou Jones wil ontmoet en liefs vir ‘n boerebrekfis wou aansit. Ou Jones sou ‘n paar woorde moes sê. ‘n Spookskrywer sou die korte rede opstel en gee waar ou Jones by die tafel wag. Toe spoeg en pollies ou Jones hom en wag op die vors. Soos afgespreek word die koevertjie met die geskrewe rede oopgemaak. En op die groot vel papier staan net geskryf: “1 April, the joker has been joked."

Maar daar is ook goed van 1 April wat waar en waaragtig is, maar as ligsinnig verwerp word. Verlede jaar op 1 April het ‘n kennisgewing in die Staatskoerant verskyn dat die seegebied tussen Pelikaanpunt en Sandvishawe by Walvisbaai van 1 Januarie tot 31 Maart vir kabeljouvangste gesluit gaan word. Niemand wou glo nie. Toe die dag en datum kom, toe is dit so.

Wat môre nie gaan gebeur nie, is dat die gevalle Mukorob (“Vinger van God”) by Asab weer uit die grond gaan verrys. Die Brukkarosberg gaan nie weer sy lawa opslurp wat dit met ‘n uitbarsting op 1 April uitgespoeg het nie. Die opdrag gaan herroep word wat op ‘n 1 April uitgereik was dat al Swakopmund se palmbome uitgekap moet word, ‘n 1 April se aankondiging van ‘n tolhek by Nonidas voor Swakopmund gaan nie meer geld nie.

Maar pas tog op. Alles wat aan 1 April gekoppel word, is soms njannies en g’n grap nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer