Net Gold Cup verander Jones se wenspan

Rugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Nadat die Windhoek Draught Welwitschias en die Hino Valke reeds vanjaar elkeen een oorwinning teen mekaar behaal het, kruis hul paaie môre vir die derde keer hierdie seisoen.

Die Namibiese amateurspan het verlede week gewys dat hy in die Curriebeker eerste liga ernstig wil meeding, toe hy die OP Kings 'n oortuigende pak slae met 51-25 gegee het.

Afrigter Lyn Jones moes egter gister 'n 22-tal met verskeie veranderinge aankondig, wat volgens hom deels 'n geleentheid is om meer spelers die kans te gee om te wys dat hulle op hierdie vlak hoort.

Die terugkeer van binnesenter JC Greyling na fiksheid is goeie nuus, ná die goeie spel wat hy in Juliemaand tydens die Afrikabeker gelewer het. Hy is gewis 'n planmaker wat spelers rondom hom kan wegstuur en hoe opwindend sal dit wees om die giftige Lesley Klim langs hom te hê?

Jones het gister gesê die Namibiese amateurspan wens Western Suburbs sterkte toe met sy deelname in die Gold Cup-reeks, wat goeie blootstelling vir die klubspelers is. Die Welwitschias het 'n paar manne hieraan afgestaan, wat die vernaamste faktor in die veranderde span is.

Russell van Wyk (vleuel), Helarius Kisting (skrumskakel) en Adriaan Booysen (flank) is van die spelers wat 'n kans kry om vanaf die eerste afskop hul merk te maak.

Dit skep ook op die reserwebank kans vir die insluiting van Thomas Kali, Dirk von Weidts en Francois Wiese.

In April vanjaar het die Valke op Kemptonpark 'n oorwinning met 50-33 behaal, maar die volgende maand in Windhoek was die Namibiërs gereed vir hulle en het met 45-43 gewen.

Windhoek Draught Welwitschias: 15 Mahco Prinsloo, 14 Russell van Wyk, 13 Lesley Klim, 12 JC Greyling, 11 Johann Tromp, 10 Theuns Kotzé, 9 Helarius Kisting, 8 Christo van der Merwe, 7 Adriaan Booysen, 6 Rohan Kitshoff (kapt), 5 Max Katjijeko, 4 Ruan Ludick, 3 AJ de Klerk, 2 Niël van Vuuren, 1 Desiderius Sethie.

Reserwes: Bigman Kaura, Christo McNish, Hermanus Grobler, Denzil van Wyk, Thomas Kali, Dirk von Weidts, Francois Wiese.

Hino Valke: 15 Christian Rust, 14 Coert Cronje, 13 Grant Janke, 12 Errol Jaggers, 11 Etienne Taljaard, 10 Warren Potgieter, 9 Johan Pretorius, 8 Friedle Olivier, 7 Ernst Ladendorf, 6 Robey Leibrandt, 5 Gert Alberts, 4 Shane Kirkwood, 3 Andries Schutte, 2 Jan Enslin, 1 Koos Strauss.

Reserwes: Gihard Visagie, Heinrich Roelfse, Reg-Hack Muller, Simphiwe Sithole, Anrich Richter, Andrew van Wyk, Don Mlondobozi.



ONDER 20'S SPEEL VIR DERDE PLEK

Namibië het Woensdagaand in Uruguay moedig probeer, maar kon nie die hoër gerekende Japan van sy troontjie afstoot tydens die Wêreldrugby Junior Trofee-toernooi nie.

Rustyd was Namibië nog met 'n agterstand van 14-13 sterk in die prentjie, maar Japan het die knoop met 33-13 deurgehaak.

Dit beteken dat Japan komende Sondagaand in die toernooi se eindstryd teen Portugal betrokke sal wees, terwyl Namibië net voor dit vir die derde plek teen die indrukwekkende gasheerspan Uruguay sal uitspeel.

Die Namibiërs het twee puik drieë in die eerste helfte gedruk. Japan het met 7-0 die voortou met 'n rolmaal-drie geneem, maar Cliven Loubser het 'n dwarsskop vir 'n onverdoelde drie deur sy regtervleuel Luke Jansen gegee.

Namibië was minute later met 10-7 voor nadat hulle die Asiate van die bal afgeskrum het. Agtsteman Oderich Mouton het Wihan von Wielligh gevoer, voor die senters Tristan Mouton en Brandon Groenewald se vinnige hande die vaart van Collins Omalu na die linkerhoek ontbloot het vir 'n aanskoulike drie.

'n Loubser-strafdoel voor rustyd was egter Namibië se laaste punte.

'n Groot keerpunt in die tweede helfte was toe Groenewald naby sy doellyn vir 'n onkant duikvat moes deurloop. Hy het nie net 'n geel kaart gekry nie, maar ook 'n strafdrie afgestaan.

Volgens afrigter Roger Thompson het skrumskakel Von Wielligh en stut Nelius Theron beserings wat hulle moontlik uit die beslissende stryd teen Uruguay kan hou.

“Ek het egter geen twyfel dat ons die vermoë het om derde te eindig nie. Teen 'n uiters gedissiplineerde en georganiseerde Japan-span het ons juniors hul man gestaan. Hulle voel bietjie teleurgesteld in die klein foute op kritieke tye en op kritieke plekke wat ons die uitslag gekos het, maar ons sal ons wonde lek en reg wees vir Uruguay.”

Volgens hom getuig die altesame 41 minute wat die bal in spel was van die hoë tempo wat gehandhaaf was.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!