Net Namibiu00ebrs braai en dans in die reu00ebn
Net Namibiu00ebrs braai en dans in die reu00ebn

Net Namibiërs braai en dans in die reën

Francoise Steynberg
Dit was 'n wonderlike belewenis toe Namibiërs van blydskap in die reën dans.

Almal wat die afgelope naweek by die Windhoek Braaifees was, het vir 'n wyle van die droogte en die swak ekonomie in die land vergeet.

Toe die reën uitsak, is alle negatiewe gedagtes opsy geskuif oor Namibië wat onder die ergste droogte in 130 jaar gebuk gaan.

Van alle uithoeke van Namibië hoor ons net slegte nuus van vee en wilde diere wat vrek en hoe boere onderdeur is. Toe ek in Maart in die Noorde was, het ek gesien hoe die veld soos 'n vloer lyk en mielies swart gebrand in die landerye staan. As jy deur dorpe se strate ry, sien jy die leë vensters van winkels wat hul deure gesluit het.

Toe die Windhoek Braaifees nader kom, was die inskrywings van boereverenigings maar traag om aan die braaikompetisie deel te neem.

"Braai is nie nou die boere se grootste prioriteit nie," het landboujoernalis Ronelle gesê.

Die braaikompetisie vir boere is juis 39 jaar gelede begin sodat die boere bymekaar kan kom en net lekker saam kan kuier.

Ek berig al vir tien jaar oor die braaikompetisie, en elke jaar is dit die hoogtepunt op my sosiale kalender. Elke jaar is dit anders, maar dit is altyd 'n vrolike geleentheid.

Republikein het ook vir 'n paar keer as sosiale span deelgeneem, en dan was ek die stuurjong om nog bestanddele of sonbrandmiddel te gaan koop.

Sommige jare was dit verskriklik warm, die son het ons gebrand en die sweet het ons afgetap. Een jaar het die wind ons op Keetmanshoop weggewaai. Twee keer – op Hochfeld in 2015 en Uhlenhorst in 2017 – het die biertente van die swaar reën geskeur en moes ons deur die modder ploeg, maar dit was toe goeie reënjare.

Maak nie saak van die weer nie, elke keer was dit 'n groot partytjie en ons het tot douvoordag gedans.

Verlede jaar was Kaiserstraat Boerevereniging die braaikampioene en hulle kondig toe aan vanjaar word die Windhoek Braaifees by die Hage Geingob-stadion gehou.

Ek het gewonder hoeveel anders dit in die stad as op die platteland gaan wees. Daar was meer bekende kunstenaars en sowat 3 200 mense het deur die hekke gestroom.

Dit was anders as die plattelandse boerebraaie, maar die hoogtepunt was toe die sluise van die hemel oopmaak en die reën uitsak. Niemand het omgegee om nat te word nie. Dit was terapeuties om in die reën te dans. Dit was 'n dans van danksegging en lofprysing. Dit was asof die reën al die swaarkry afspoel en wegwas. Reën bring altyd hoop in hierdie land.

Volgende jaar sal dit die 40ste keer wees wat die braaikompetsie aangebied word en Uhlenhorst Boerevereniging, wat al vyf keer as beste braaiers koning gekraai het, word 90 jaar oud. In 2020 gaan die vreugdevure weer hoog op Uhlenhorst brand.

'n Boer het die spyker op die kop geslaan: "Ons moet sommer vyf keer 'n jaar die braaikompetisie hou, want elke keer as ons braaikompetisie hou, dan reën dit."

Daar is twee dinge waarsonder Namibiërs nie kan klaarkom nie: Braai en reën.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!