Net nie branderige kos nie, dankie!
Mariselle Stofberg
Iets wat ek onlangs ontdek het, is dat branderige kos nie goed met my akkordeer nie.
Ek probeer sterk staan en deurdruk, maar ek kan die brandgevoel net tot op 'n punt hanteer, en dan nie meer nie.
Ek kan 'n stoute KFC se dunk'd wings eet, maar dit is sover dit strek.
Ek het egter 'n tydjie terug besef ek is eintlik 'n groot baba. 'n Groep vriende het uitgegaan met die idee om iewers iets buitengewoon te eet. Ons belowe mekaar ons sal nie iets bestel wat ons nie ken nie. Ek is ewe grootmond en belowe heelhartig saam.
Toe dit by die oomblik kom om te bestel, besef ek hier is fout. Die restaurant het net opsies wat wissel tussen warm, baie warm en duskant-die-hel warm! Mariselle, ewe grootmond, is voor in die koor en hits almal aan om die warm-warm te bestel.
Ek dink ek sal veilig wees met net warm. Hoe warm kan dit nou regtig wees? Weer eens het ek myself lekker verkeerd bewys.
Die kos kom, en dit lyk ongelooflik lekker. Ek vergeet die warm-waarskuwing en druk 'n hele lepel sonder huiwering in my mond.
Ek begin kou, en besef dadelik ek gaan vanaand my moses teëkom.
Die brand begin so agter in jou keel, waarna jy 'n droë hoesie ontwikkel. Ek probeer my pose hou. Ek wil nie soos 'n baba lyk nie.
Ek gee so 'n parmantige kerktannie hoesie, en iemand om die tafel vra of alles oukei is. “Natuurlik. Ek het al heelweek dié hoesie. Niks om oor bekommerd te wees nie.”
My oë begin traan, en ek weet die probleem is besig om in intensiteit toe te neem. Die brand trek deur tot in my mond. Alles is aan die brand. My tong voel asof hy swel. My wange se binnekant is rou; selfs my tande begin brand. Ek weet nie hoe dit moontlik is nie, maar glo my dit is.
Ek gryp die naaste glas en sluk die vloeistof met een groot sluk af. Ek besef tóé eers ek het 'n glas water gedrink. Almal weet water help nie as jou mond aan die brand is nie; dit maak dit net erger. Sommer baie erger.
Ek begin aan my mond vat om te kyk of ek die brand kan wegvee, terwyl ek so normaal as moontlik probeer voorkom. Ek kan die sweet voel drup, maar ek wil mos grootmond en kamma sterk wees. Ek wil mos almal aanhits om die brandgoed te bestel.
Ek probeer die trane uit my oë vee, maar besef te laat ek vat met dieselfde sous-van-hel-hande in my oë. En daar begin my gesig ook vlam vat. My gesig begin 'n lelike rooi Bic-pen skakering raak.
Ek probeer nou nie meer wegsteek dat ek aan die brand is nie. Ek klink later soos my boerboel ná sy gaan stap het.
Ek slaan orals in sweet uit, en ek wil eintlik net huil. Die brand raak net erger, en ek is seker hierdie is die punt waar ek gaan omkap.
Ek verskoon myself en hardloop badkamer toe. Ek hardloop amper bo-oor 'n ou tannie, en voel nie eens 'n bietjie jammer nie.
Ek val in die badkamer op die koue teëls neer. Ek weet ek lyk soos die dood, maar ek gee nie meer om nie. Die koue teëls is soos hemel, en ek voel uiteindelik of die brand besig is om te bedaar.
Ek skraap die laaste bietjie van my naam bymekaar, trek my hemp reg en loop terug tafel toe.
Die tannie kyk my met skrefiesoë aan, en ek sit so saggies as moontlik terug op my stoel.
“So julle, hoe is die kos?”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie