Net span nouer om Otji-dok

'n Dokter van Otjiwarongo wat glo roekeloos en nalatig bestuur het, word deur die Raad op Gesondheidsberoepe ondersoek.
Denver Kisting
Denver Kisting - Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste ondersoek 'n klag van diefstal teen Otjiwarongo se omstrede dokter, dr. Yeukai Chiradza.

Volgens die registrateur en uitvoerende hoof van die raad op gesondheidsberoepe, mnr. Cornelius Weyulu, hou dit verband met die diefstal van medisyne.

Weyulu het gistermiddag bevestig daar word beweer Chiradza is moontlik afhanklik van verslawende medisyne en dat hy dit misbruik.

In dié stadium ondersoek die raad die aantygings met die oog op die moontlike inperking van sy magte ingevolge wetgewing wat gesondheidsberoepe reguleer, sê Weyulu.

Volgens hom vind inperking plaas wanneer 'n gesondheidsbeampte aan 'n geestelike of liggaamlike toestand ly wat dit noodsaak of wanneer die misbruik en afhanklikheid van enige geskeduleerde medisyne of ander gewoontevormende middel, 'n chemiese middel of enige middel wat die vermoë, gesindheid, oordeel en optrede van 'n geregistreerde praktisyn nadelig beïnvloed.

Weyulu het gesê Chiradza is reeds sedert 3 Desember 2014 by die raad geregistreer.

Volgens hom is daar geen vorige of ander hangende sake teen Chiradza nie.

Weyulu sê voorts die raad is verplig om die publiek te beskerm deur die gedrag van 'n praktisyn in sy professionele hoedanigheid teenoor 'n pasiënt te reguleer.

“Die raad móét betrokke raak by enige ­handeling wat die lewe van 'n pasiënt in gevaar stel.”

Om daardie doelwit te bereik, maak die raad swaar staat op inligting van die publiek en ­praktisyns se kollegas, sê hy.

Volgens hom bestaan daar regtens strukture wat sodanige ondersoeke lei en strawwe voorstel.

Dié strawwe sluit die skrap van 'n beampte, skorsing of 'n waarskuwing en/of betaling van 'n boete in.

Intussen sê die enigste twee oorlewendes van 'n noodlottige ongeluk in Julie 2015 wat glo deur Chiradza veroorsaak is hulle is woedend dat hy steeds mag bestuur.

Volgens me. Sonja Junius, wie se ma, Alet, haar tannie, me. Welmien Louw en Louw se seun, Konrad, in dié ongeluk omgekom het, was sy aanvanklik jammer vir Chiradza.

'LEWENS VERWOES'

“Maar nou is ek net naar vir hom. Hoeveel mense se lewens wil hy nog verwoes? Hy moenie toegelaat word om aan te hou bestuur nie.”

Weens die beserings wat sy in die ongeluk opgedoen het, kan Sonja niks van die ongeluk onthou nie.

Sy het in die middel agter tussen haar ma en tannie gesit.

“Ek is bly ek kan niks onthou nie. Ek wíl niks onthou nie.”

Haar ander neef, mnr. Johan Junius, het links voor gesit en alles sien gebeur.

“Soos hy daar op die video gery het, het hy met ons gemaak. Ek het lank daarná nagmerries gehad. Ek is baie woedend. Hy moet definitief tronk toe gaan.”

Johan en Chiradza het elkeen 'n arm in die ongeluk gebreek.

Welmien se dogter en Konrad se suster, me. Norelle Louw, het gistermiddag gesê: “Dis baie ironies dat hy op die dag wat hy in die hof moes wees, sulke sports aangevang het.”

Hoewel daar die ­afgelope week op Karibib 'n lasbrief vir Chiradza se inhegtenisneming uitgereik is, was alle aanduidinge dat hy teen gister steeds op vrye voet was.

Hy moes in die landdroshof op dié dorp op aanklagte van strafbare manslag vir die 2015-ongeluk verskyn.

'n Video waarin Chiradza motoriste op hol jaag weens klaarblyklike roekelose en nalatige bestuur maak sedert einde verlede week wyd opslae.

Verskeie pogings om hom gister in die hande te kry, het misluk.

Sy selfoon was deurgaans afgeskakel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!