Netbalspan uit eindstryd geskop oor rasreu00ebl
Netbalspan uit eindstryd geskop oor rasreu00ebl

Netbalspan uit eindstryd geskop oor rasreël

Netbal
Annchen Nel – Sy kan maar alles verloor, maar sy veg vir haar spelers en sy eis regverdigheid.
So sê ’n ontstelde Theresa Rossouw, netbalafrigter van Mpumalanga se Sunbirds, wat die afgelope Sondag weens ’n verkeerde raskwota in die halfeindronde hul plek in die eindstryd van afdeling B van die Nasionale Liga verbeur het.
“Ek gaan hierna waarskynlik nie meer ’n afrigter of skeidsregter wees nie, maar ek baklei vir my spelers en ek soek regverdigheid,” sê Rossouw.
Sy is ook bereid om haar geveg alleen te veg, sou die Mpumalanga-netbalunie haar nie steun nie, sê sy.
Die Sunbirds het albei rondes in die eerste plek op die punteleer afgesluit en Sondag hul halfeindstryd teen die Kingdom Queens met 43-42 gewen.
“Ek het geweet ons gaan die goue medalje wen.
“Toe ons ’n halfuur ná die wedstryd by ons hotel stop, kry ek ’n oproep en WhatsApp-boodskap dat ons al ons punte verloor en om die derde plek sal uitspeel.”
Rossouw het in die tweede kwart ses swart spelers en een wit speler op die baan gehad. Die formaat op die baan moet wees 5/2 of 4/3, maak nie saak watter kleur nie. Jy mag dit vir enkele minute omseil, maar nie vir ’n hele kwart nie.
Rossouw was egter sonder Maria Cato, haar spanbestuurder, wat Saterdagmiddag weens stres inmekaargesak het en per ambulans na ’n hospitaal geneem is.
Sy het bloeding op die brein en word Vrydag geopereer.
“Die span was gebroke. Hulle het gewen, maar verloor. Ons het gehuil.
“Al die skuld kom op my af. Ek het dit nie besef nie, want ek kyk nie na kleur nie. Ek fokus op die wedstryd.”
Dit is gewoonlik die spanbestuurder se werk om te sorg dat die afrigter ruilings korrek uitvoer.
Rossouw het Faith Motau, die span se beseerde kaptein, langs haar gehad, maar sy was ook nie vertroud met die take van ’n spanbestuurder nie.
“Dit is teleurstellend. Ons is nie ’n kans gegun om ons kant van die saak te stel nie.”
Rossouw het ’n appèl ingedien, maar dit was onsuksesvol.
“Ek het Sondagnag op haar versoek ’n brief aan Cecilia Molokwane (president van Netbal Suid-Afrika) geskryf oor al ons beproewings voor en tydens die toernooi.
“Maandagoggend, ’n uur en ’n half voor ons wedstryd, het sy die span by ons hotel ontmoet en hulle probeer moed inpraat.”
Die Sunbirds moes ná Sondag se teleurstelling Maandagoggend teen die Tornados om die derde plek uitspeel. Hulle het met 25-44 verloor.
Rossouw sê sy het 25 minute voor die wedstryd nie geweet of haar span gaan speel nie.
“Die helfte wou speel, die ander nie. Ek kon net met sewe spelers speel.”
Rossouw sê sy het in 2019 appèl aangeteken toe die Kingdom Stars teen die Sunbirds in al vier kwarte nét swart spelers op die baan gehad het.
“Hulle is toe net gewaarsku.”
Dieselfde kwotareël wat spanne geld, geld die spanbestuur. Dit moet 50/50 wees en die demografie van die provinsie weerspieël, volgens NSA se reëls.
Volgens Rossouw voldoen die Oos-Kaapse Aloes en Kingdom Queens se bestuurspanne nié hieraan nie.
Die Sunbirds se beproewinge het al voor die toernooi begin.
Hul finale proewe is eers tien dae voor hul vertrek na Bloemfontein afgehandel.
“Ons kon nie oefen nie, ons bly honderde kilometer van mekaar.”
Daarna moes hulle op hul eie onkoste meer as een keer die spelers se kleredrag laat verstel, want dit was meestal te klein en die rokke te kort.
Die span het in Bloemfontein weens verkeerde GPS-koördinate twee keer by die verkeerde sentrum opgedaag. Hy het ook gebuk gegaan onder talle beserings.
Mami Diale, NSA se direkteur van afbakening en strukture, sê die uitvoerende komitee moet bespreek hoe hulle die Sunbirds se kwessies gaan hanteer.
“Dit is iets wat met die Mpumalanga-unie bespreek sal word. ’n Span en sy afrigters is deel van ’n unie.”
Diale sê die toernooireëls is voor die kompetisie aan die provinsies gestuur en met die spanne se aankoms was daar ’n vergadering met die spanbestuurders.


FOTO
Theresa Rossouw, die Sunbirds-afrigter, langs die netbalbaan in Bloemfontein.

Kommentaar

Republikein 2025-04-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer