NFA opnuut omstrede

Sokker
Tielman van Lill
Die Namibiese Sokkervereniging (NFA) het met sy onlangse hantering van ’n geadverteerde pos vir ’n tegniese direkteur, weereens met die spreekwoordelike voet in die mond beland.

Die NFA het nie self die aansoeke en die keuringsproses gehanteer nie, maar het TransfoCoaching & Consulting van me. Florentia Amuenje aangestel om die aansoeke te hanteer.

’n Gesoute applikant soos Woody Jacobs wat met etlike titels in premierliga-sokker spog, is sonder enige rede vir die kortlys oor die hoof gesien.

Jacobs is tans die hulpafrigter van die Namibiese nasionale manspan wat redelik baie oor sy kennis en vermoëns uitspel.

Nog ’n hoopvolle aansoeker vir die pos is Rodney Wallace Doeseb wat nes Jacobs stomgeslaan moes toekyk hoe onervare applikante met veel minder indrukwekkende getuigskrifte bo hulle die gewraakte kortlys gehaal het.

Beide Jacobs en Doeseb is nie vir ’n onderhoud genooi nie en sê hulle is onregverdig behandel en dat die keuringsproses en onderhoude van TransfoCoaching & Consulting nie deursigtig was nie.

Dit is inderdaad raar dat ’n afrigter van Jacobs se kaliber nie eens vir ’n onderhoud genader word nie. Jacobs en Doeseb het ’n brief aan die NFA gerig waarin hulle hul griewe rakende TransfoCoaching se eensydige optrede op die voorgrond plaas.

“Wat kwalifikasies en ondervinding betref, het ons aan al die vereistes vir die pos voldoen wat deur die NFA vereis is. Die sogenaamde kandidate op die kortlys voldoen nie eens aan die minimum vereistes wat deur die NFA aangedui is nie.

“TransfoCoaching het met sy partydige en eenogige optrede en hantering van die kwessie beslis ’n verskuilde agenda,” sê die duo in hul brief aan die NFA.

Jacobs en Doeseb het TransfoCoaching uitgedaag om die teendeel te bewys deur die keuringsproses openbaar te maak. Amuenje het egter oor ’n tydperk van vyf dae nie op die nuusagentskap Nampa se versoek om kommentaar gereageer nie.

Mnr. Franco Cosmos, waarnemende sekretaris-generaal van die NFA, het bevestig die NFA het Jacobs en Doeseb se skrywe ontvang. Volgens hom is daar egter niks wat die NFA aan die saak kan doen nie en hy sê navrae moet aan Amuenje gerig word.

Volgens gerugte het Cosmos self met die keuringsproses gehelp deur persoonlik saam met TransfoCoaching te werk. Cosmos het die vorige dag sy onderhoud vir die amp van sekretaris-generaal van die NFA vir die volgende vier jaar gehad.

Terwyl die NFA onder beleg was, het Cosmos op die Fifa-normaliseringskomitee gedien wie se werktermyn vroeër vanjaar tot ’n einde gekom het. Volgens opdragte van Fifa mag en kan Cosmos nadat sy tydperk op die normaliseringskomitee verstreke is, nie as sekretaris-generaal van die NFA aangestel word nie en selfs nie tussentyds in die pos werk nie.

Behalwe die posisie vir ’n tegniese direkteur het die NFA ook die pos vir ’n sekretaris-generaal, finansiële, administratiewe, asook inligting- en- tegnologiebestuurder geadverteer. Onderhoude is verlede Donderdag en Vrydag gevoer.

- Bygewerk van Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!