Nu00f3g etlike terugslae tref Huawei
Nu00f3g etlike terugslae tref Huawei

Nóg etlike terugslae tref Huawei

Geen Huawei-produk word meer deur Microsoft verkoop nie.
Petrus Malherbe – Huawei beleef ’n slegte week.

Een groot Amerikaanse maatskappy ná die ander is besig om hul bande met die Chinese slimfoonvervaardiger te verbreek.

Microsoft het vroeër die week stilletjies Huawei se MateBook X Pro uit sy winkels (fisiek, sowel as aanlyn) in Amerika verwyder.

Trouens, geen Huawei-produk word meer deur Microsoft verkoop nie.

Terselfdertyd het die skyfievervaardigers Qualcomm en Intel aangekondig hulle sal nie meer apparatuur aan Huawei kan verskaf nie weens Amerika se sanksies teen die maatskappy.

Die Amerikaanse regering het verlede week Huawei op ’n sogenaamde “swartlys” geplaas van oorsese maatskappye aan wie Amerikaanse ondernemings geen programmatuur of apparatuur mag verskaf sonder die regering se toestemming nie.

Hoewel Huawei sy fone in China vervaardig, gebruik hy verskeie onderdele en sagteware afkomstig van Amerika.

As deel van die verbod mag Google byvoorbeeld ook nie meer sy gewilde bedryfstelsel Android aan Huawei verkoop nie. Microsoft het nog nie aangedui of hy die verkoop van sy lisensies vir Windows aan Huawei gaan opskort nie, maar hy sal waarskynlik moet.

Verskeie van Huawei se verskaffers, selfs dié buite Amerika, word deur die verbod geraak.

Groot probleem met mikroskyfies

ARM, ’n groot vervaardiger van mikroskyfies, het Woensdag gesê ook hy kan nie meer sake met Huawei doen nie. ARM is nie ’n Amerikaanse maatskappy nie. Dit is in Engeland gesetel en word deur die Japanse SoftBank Group besit.

Nietemin gebruik ARM Amerikaanse tegnologie in sy mikroskyfies wat beteken dié produkte mag ook nie meer aan Huawei verskaf word nie.

Boonop sal Huawei nie eens sy eie skyfies volgens ARM se spesifikasies kan vervaardig nie omdat dit gegrond is op ’n Amerikaanse ontwerp.

In ’n verklaring sê Huawei hy besef verskeie van sy verskaffers verkeer tans onder ongelooflike druk weens “polities gemotiveerde besluite”.

Die maatskappy sê hy is vol vertroue dat ARM se “betreurenswaardige besluit” opgelos kan word sodat hy steeds produkte van hoë gehalte aan klante sal kan lewer.

’n Woordvoerder van ARM het aan The Verge bevestig die maatskappy sny sy bande met Huawei om aan Amerikaanse sanksies te voldoen. Indien ARM nie gehoor gee aan die verbod nie, kan dit sy betrekkinge met sy Amerikaanse vennote in die wiele ry, sê die woordvoerder.

Vlagskipfoon se bekenstelling in gedrang

Terselfdertyd berig die Duitse media dat Huawei se nuwe vlagskipfoon, die Honor P20 Pro, nie betyds gereed was om ’n lisensie vir Google se Android-bedryfstelsel te bekom nie.

Die Amerikaanse departement van handel sê enige Huawei-produk wat voor 16 Mei verkoop is, sal steeds toegang tot Android hê tot minstens middel Augustus. Hierdie toestelle ontvang steeds alle bywerkings tot die bedryfstelsel en sal steeds toegang hê tot al Google se apps.

Huawei het beplan om die Honor P20 Pro binne die volgende paar weke in Europa bekend te stel. Dié plan is nou in die wiele gery en gevolglik gaan die toestel vir eers net in China uitgereik word.

Die Japanse bekendstelling van die P30 Pro, wat reeds in Suid-Afrika goed verkoop, is ook onbepaald uitgestel, het Huawei bevestig.

Die maatskappy is nie juis tegemoetkomend oor versoeke vir meer inligting oor wat hy dink ’n haalbare oplossing is vir die penarie waarin hy hom bevind nie.

’n Woordvoerder van Huawei in Suid-Afrika sê wel sake hier gaan voort soos normaal en dat die situasie deur die hoofkantoor gehanteer word.

Die koms van Huawei se eie bedryfstelsel teen so vroeg as September is wel deur die maatskappy bevestig.

Huawei se eie bedryfstelsel

Huawei Central, ’n toonaangewende bron van inligting oor Huawei-verwante sake, berig dat Hongmeng, soos die bedryfstelsel bekendstaan, wel alle bestaande Android-apps sal ondersteun.

Die webblad berig verder dat Huawei sy eie app-winkel soortgelyk aan Google se Play Store ontwikkel en dat dit “dieselfde apps” gaan bevat.

Google het wel bevestig dat Huawei-toestelle nie toegang sal hê tot sy produkte en dienste nie omdat hy nie die lisensies daarvoor aan Huawei mag verkoop nie.

Derduisende poste in gedrang

Die verbod benadeel natuurlik nie net vir Huawei nie, maar ook hierdie Amerikaanse ondernemings wat almal ’n belangrike kliënt verloor.

Die Information Technology & Innovation Foundation (ITIF), ’n Amerikaanse dinkskrum vir die bedryf, voorspel Amerikaanse maatskappye kan tussen $14,1 miljard en $56,3 miljard se verkope-inkomste oor die volgende vyf jaar verloor.

Hierdie verliese bedreig tussen 18 000 en 74 000 poste.

Die ITIF sê die Amerikaanse regering is reg om Amerikaners teen beweerde spioenasie deur buitelandse maatskappye te beskerm, maar dat ’n verbod op die uitvoer van tegnologieprodukte die bedryf onherstelbare skade gaan berokken.

Die verlies aan inkomste gaan ook beteken dat hierdie maatskappye nie meer soveel sal kan belê in die ontwikkeling van nuwe tegnologie nie, wat aan Amerika ’n agterstand sal gee vergeleke met die res van die wêreld.

Amerika, en spesifiek pres. Donald Trump, beskuldig Huawei daarvan dat hy namens die Chinese regering spioeneer. Huawei ontken dit ten sterkste. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!