Nóg geld geleen
Die minister van finansies het verseker die jongste lening sal nie die regering se skuldlas oor die drie begrotingsjare tot 2019-'20 vererger nie.
Jo-Maré Duddy
Namibië gaan N$10 miljard by die Afrika Ontwikkelingsbank (AfDB) leen om sy begrotingstekort in die huidige en volgende boekjaar te help finansier en vir infrastruktuurprojekte te help betaal.
In totaal gaan N$6 miljard van dié lening vir die regering se verwagte begrotingstekorte gebruik word – N$3 miljard vir 2017-'18 se beraamde N$6,12 miljard en die res vir 2018-'19 se geskatte N$4,67 miljard.
Die oorblywende N$4 miljard van die AfDB-lening sal vir ontwikkelingsprojekte aangewend word wat nog geïdentifiseer moet word, het die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, gistermiddag tydens 'n nuuskonferensie gesê.
Die leningsfasiliteit sal nié die regering se begrote skuldlas vir die drie fiskale jare tot 2019-'20 oorskry nie, het Schlettwein verseker. Volgens sy begroting wat in Maart ter tafel gelê is, word Namibië se totale skuld vir die huidige boekjaar op bykans N$71,7 miljard beraam. Vir 2018-'19 word dit op bykans N$73,8 miljard geskat.
Die AfDB-lening sal die regering in staat stel om sy program vir begrotingskonsolidering “glad te implementeer”, het Schlettwein gesê.
Sodoende sal 'n “skielike korreksie van uitgawes en diep bestedingsbesnoeiing vermy word wat 'n negatiewe uitwerking op die doeltreffende lewering van noodsaaklike dienste mag hê,” sê hy.
“Verlede jaar moes ons met 'n skerp val in groei worstel en net so 'n skerp inkrimping in besteding vanjaar moes verhoed word,” aldus Schlettwein.
Bestedingsrieme vir onder meer konstruksie wat dun gesny is, het bygedra tot ekonomiese groei van net 0,2% in 2016 vergeleke met 6,1% die vorige jaar.
Die internasionale kredietgradeerders Fitch Ratings en Moody's hou Namibië se geldsake met 'n arendsoog dop. Die regering se buitelandse skuldlas by beide gradeerders is net 'n vlak bo rommelstatus en albei het die land se kredietgraderingsvooruitsig verlede jaar van stabiel na negatief verlaag.
Schlettwein se begrotingskonsolidering poog om die begrotingstekort vanjaar na 3,6% van die bruto binnelandse produk (BBP) te krimp teenoor 6,3% in 2016-'17. Volgende jaar teiken hy 2,5%.
Die leningsfasiliteit by die AfDB is in Suid-Afrikaanse rand en beskerm Namibië teen wisselkoersskommelings soos met die Eurobond. Voorts is die rentekoers kompeterend en ding dit gunstig mee met soortgelyke skuldinstrumente in die Namibiese mark, sê Schlettwein. Die lening moet oor 15 jaar terugbetaal word, waarvan drie jaar 'n grasietydperk is.
Volgens Schlettwein is beperkte likiditeit in die plaaslike mark 'n uitdaging en word dit deur “volhardende ondersubskripsie van die regering se skuldinstrumente” gekenmerk. Die plaaslike mark bly egter die regering se vernaamste finansierder van die begrotingstekort, sê hy. Volgens die jongste begrotingsdokumente is sowat 60% van totale regeringskuld vanjaar en volgende jaar plaaslike skuld.
Nog 'n voordeel van die AfDB-fasiliteit is dat dit op medium termyn 'n hupstoot vir Namibië se buitelandse valutareserwes gaan wees, aldus Schlettwein.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie