Nóg graffiti ontdek

Toeriste het nie net die geskiedkundige Garub-treinstasie naby Aus beverf nie, maar ook talle padtekens in die Solitaire-omgewing.
Erwin Leuschner
Erwin Leuschner – Lede van die publiek het twee van die vier toeriste geïdentifiseer wat graffiti tydens ’n besoek aan Namibië in Februarie veral in die Suide agtergelaat het.

Een van die toeriste het per e-pos om verskoning gevra.

“Namens my drie vriende wil ek om verskoning vra vir dit wat gebeur het,” het hy geskryf.

Hy het na homself as “thereal-nere” verwys.

Die toeris is deur die Namibiër mnr. Nrupesh Soni opgespoor, wat die voorval in sy private hoedanigheid ondersoek het.

Die betrokke drie toeriste woon in Lyon in Frankryk en is glo ook daar in die media vir hul graffiti bekend.

Die vierde man is glo ’n Kanadadees.

In sy e-pos het die toeris die Garub-ruïne as ’n verlate gebou beskryf.

“Aangesien die gebou in puin lê en verlate in die woestyn is, het ons nie gedink dit is erfenis of van geskiedkundige waarde nie.

“Ek moet toegee dit was naïef en roekeloos van ons.”

Volgens dié toeris het hy en sy makkers die subtiele grens tussen kuns en vandalisme oorskry.

“thereal-nere” het homself van die graffiti gedistansieer en verduidelik hy het die geselskap se voertuig bestuur en foto’s geneem.

“Ek was nie deel van die vandalisme nie.”

Intussen het dit aan die lig gekom die groep het graffiti op verskeie padtekens, -borde en ruïnes tydens hul Namibië-toer aangebring.

’n Padteken op die C19 wat die afstand na Solitaire aandui, is onder meer beverf.

“Ons moet dit nou stopsit,” sê Soni.

Hy is bevrees ander toeriste en besoekers kan dit as die norm sien en dieselfde voorbeeld volg.

Soni doen ’n beroep op Namibiërs om te help om die graffiti vrywillig te verwyder.

“Ons kan nie langer wag nie, maar ons sal die skuldiges ongetwyfeld hiervoor verantwoordelik hou,” sê hy.

Intussen is die Franse ambassade in Windhoek oor die saak ingelig, maar hulle het tot dusver geen amptelike mening uitgespreek nie.

Ook die Namibiese ambassadeur in Frankryk, mnr. Albertus !Aochamub, is van die voorval ingelig.

“Ons beveel aan dat ’n formele klag en strafregtelike verrigtinge volg,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!