Nóg hartseer vir Otweya

Inwoners wat hul wonings verlede jaar in 'n brand verloor het, moes nou ook vloede trotseer.
Elvira Hattingh
Otis Finck op Walvisbaai



Terwyl talle Namibiërs verheug is oor die onlangse reën, het dit tot meer hartseer in die sogenaamde Otweya-tentedorp gelei.

Onverwagse swaar reën het talle op Walvisbaai onkant gevang – veral die brandslagoffers van Twaloloka wat nou in tente in Otweya woon – wat in 'n laagte geleë is.

Dit is bekend dat dié hawedorp nie oor 'n doeltreffende waterdreineringstelsel beskik nie en wanneer dit reën, vorm waterpoele oral.



ONVERWAGS

Wat aanvanklik as motreën omstreeks 23:30 begin het, het vinnig in swaarder reën ontaard wat vir minstens twee uur lank geduur het.

Die inwoners van die tentedorp moes bontstaan om te keer dat water hul tente binnedring. “Dit het baie vinnig gebeur. Die volgende oomblik was my tent onder water,” het me. Gertrude Mohewa vertel.

Sy moes haar tent die ­volgende oggend opslaan en elders heen ­verskuif.

'n Lid van die Otweya-inwoners­komitee, mnr. Jolokweni ­Johannes, sê hulle wag op die kantoor van die eerste minister vir hulp.

“Hulle moet ingryp en ons deur die moeilike tyd help. Intussen bid ons net dat dit nie weer reën nie.”

Die munisipaliteit het intussen hope duinesand in die paadjies tussen die tente afgelaai sodat die poele water geabsorbeer word.

Die munisipaliteit het ook pad­skrapers voorsien om die hope sand plat te stoot.

Inwoners – jonk en oud – het emmers sand na hul tente gedra om die kante daarvan te versterk en om seker te maak dat, sou die reën weer kom, dit weg van die tente se ingange geblokkeer word.



BONTSPRING

Familielede wat in 'n huis in ­Duinstraat in Narraville woon, moes ook bontspring om sand­sakke in die hande te kry toe dit begin reën het.

“Die erf was binne drie minute toe onder die water en ons het besef as ons nie vinnig optree nie, sal dit die huis binnestroom. Gelukkig het ons bure ons met sandsakke gehelp terwyl lede van die ­Narraville-buurtwag gehelp het om dit vol te maak,” het een van die ­inwoners vertel.

Die sandsakke is inderhaas voor die voor- en agterdeur van die huis gepak, maar dit kon nie al die reënwater keer nie.

Personeel van die munisipaliteit en 'n vragmotor wat water pomp, was op die toneel om die water uit die erf te verwyder.

Volgens die weervoorspellingstoep myweather2.com sal dit oor die volgende 14 dae meestal “droog” op Walvisbaai wees, alhoewel 'n aansienlike hoeveelheid reën vir gisteraand, asook Vrydag die 29ste voorspel word.

Volgens die weervoorspellingsdiens is tot 16 mm reën vir gisteraand voorspel, terwyl winde na verwagting matig sou wees.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer