Nóg konferensies uitgestel weens coronavirus
Francois Williams – Minstens nog drie konferensies wat binne die volgende paar maande op verskillende plekke in Afrika aangebied sou word, is die afgelope week weens vrese oor die virussiekte covid-19 uitgestel na later vanjaar of na ’n onbepaalde tyd.
Dit kom terwyl die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata) verlore inkomste van tussen $63 miljard en $113 miljard vir vanjaar voorspel weens die invloed van covid-19 op lugdienste se bedrywighede.
Die Afrika Raffineerders- en Verspreidersvereniging (ARA), ’n bedryfsliggaam wat olieraffineerders en verwante oliebedrywe in Afrika verteenwoordig, het Vrydag aangekondig sy jaarberaad wat hy van 23 tot 27 Maart in Kaapstad sou hou, is tot Oktober uitgestel.
Die ARA, met sy hoofkantoor in Abidjan in die Ivoorkus, hou jaarliks dié beraad. Dit word dikwels in Kaapstad aangebied, en lok oliebaronne uit Afrika en die buiteland.
Op dieselfde dag het die VN Klimaatveranderingsekretariaat besluit om Africa Climate Week, ’n konferensie wat van 20 tot 24 April in Kampala, Uganda, gehou sou word, onbepaald uit te stel. Die sekretariaat het beklemtoon die konferensie is nie afgestel nie, maar ’n later datum moet nog vasgestel word.
Net die dag tevore het Ekwatoriaal-Guinee aangekondig hy gaan die Africa Oil & Investment Forum wat vir Junie beplan is, na November uitstel. Dié konferensie is gemik op internasionale beleggers wat in Ekwatoriaal-Guinee se oliebedryf belang stel.
Vroeër verlede week is ’n internasionale konferensie vir rekenmeesters en regslui wat later die maand in Kaapstad gehou sou word, gekanselleer.
Iata sê lugdiensmaatskappye se aandeelpryse het met byna 25% geval sedert die uitbreking van covid-19.
Iata se syfers wys internasionale passasiersyfers in Januarie het met 2,4% gestyg vergeleke met ’n jaar gelede, maar dit is die kleinste maandelikse styging sedert April 2010 toe die krisis met vulkaan-as oor die Europese lugruim tot grootskaalse vlugkansellasies gelei het. Alexandre de Juniac, uitvoerende hoof van Iata, meen Januarie se groeisyfers is die laagste verkeersgroei in byna ’n dekade.
Hy meen dis nog maar die oortjies van die seekoei, want China het eers op 23 Januarie grootskaalse perke op lugvervoer begin plaas weens covid-19.
Suid-Afrika het reeds drie bevestigde gevalle van die virus aangemeld. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie