Nóg ’n militêre konvooi

Die ministerie van verdediging sê die voertuie beweeg van een basis na ’n ander.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Die publiek is weer eens ontsenu deur ‘n groot konvooi van ongeveer 50 militêre lorries wat met Land Rovers volgelaai is.

Dié konvooi is verlede Donderdag op die B1-hoofweg naby die weegbrug by Brakwater, buite Windhoek, gewaar.

Die militêre vragmotors het oënskynlik vanuit ‘n noordelike rigting na Windhoek gery. Volgens gerugte het die voertuie vanuit Katima Mulilo gery.

Daar is ook bespiegelinge van samewerking tussen Namibië en Zimbawbe in dié land se militêre oorname verlede maand nadat twee groot militêre konvooie op 21 November op die Westelike verbypad buite Windhoek in ‘n noordelike rigting gery het.

Ongeveer twee weke daarvóór is ‘n lang konvooi militêre vragmotors, ook met Land Rovers gelaai, in Sam Nujomarylaan gesien. Dié konvooi het in die rigting van die Internasionale Lughawe Hosea Kutako gery.

Majoor Peter Shilumbu, woordvoerder van die ministerie van verdediging, het tóé gesê die konvooie wat op die Westelike verbypad gesien is, was ‘n nuwe besending militêre voertuie wat na hul onderskeie eenhede ontplooi is.

Shilumbu het ook gesê die voertuie wat in Sam Nujomarylaan gesien is, is lorries van Botswana se weermag wat van Botswana se droogdok na Walvisbaai op pad was.

Hy't bygevoeg die lorries wat verlede week op die B1-hoofweg gesien is, word van een basis na ‘n ander geskuif.

“Dit is voorheen ook gedoen,” het Shilumbu gesê.

“Mense hou daarvan om gerugte te versprei.

“Die publiek moet weet die weermag is nie op een plek gestasioneer nie. Mense moenie Namibië aan enige ander land koppel nie. Ons is lede van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC), en sou iets iewers in die streek gebeur, sal die SADC besluite rakende ontplooings maak,” het Shilumbu gesê.

Hy het gesê hy is nie bewus van enige “verwikkeling” waarby die Namibiese weermag (NDF) betrokke is nie.

“Mense moet kyk of hierdie voertuie NDF-registrasienommers het of nie,” het hy gesê.

'n Joernalis wat Vrydag foto’s van twee van die lorries geneem het wat onklaar langs die pad geraak het, het gesê die voertuie het geen nommerplate op gehad nie.

Hy het gesê daar was geen aanduiding dat die voertuie aan die NDF behoort nie.

“Ek wil die publiek verseker die veiligheidsituasie in die land is stabiel. Mense heg betekenis aan verkeerde goed. Daar is geen rede tot paniek nie. Sou daar enige verwikkelinge wees, sal die ministerie van verdediging dit met die publiek deel,” het Shilumbu gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!