Nu00f3g u2019n ramp tref boere
Nu00f3g u2019n ramp tref boere

Nóg ’n ramp tref boere

DVS sluit voerkraal oor Zeranol
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Meatco se Okapuka-voerkraal is vir die tweede keer vanjaar deur die direktoraat veeartsenydienste (DVS) onder kwarantyn geplaas nadat die verbode groeimiddel Zeranol in die urienmonster van ’n bees gevind is.
Dié sluiting is ’n verdere ramp vir die land se steierende rooivleisbedryf wat sedert 1 Julie vanjaar nie meer in staat is om speenkalwers na voerkrale in Suid-Afrika uit te voer nie.
Daar staan tans 8 000 speenkalwers by die voerkraal wat veronderstel is om slaggereed gemaak te word vir die uitvoermark.
Die Vleisraad het pas die tweede deel van die Noorweegse uitvoerkwota aan Meatco toegeken ingevolge waarvan 400 ton vleis na dié hoëpremie-mark moet gaan.
Republikein het gister op goeie gesag verneem die veterinêre toetsproses waaraan die voerkraal moontlik onderwerp gaan word, kan tot ’n effektiewe sluiting van tot 10 maande lei.
Die verliese kan soveel as N$140 miljoen beloop.

Wat is Zeranol?
Volgens die bekende Suid-Afrikaanse “kuber”-veearts en Landbouweekblad-rubriekskrywer dr. Faffa Malan is Zeranol ’n resorsikliese suur-laktoon­ wat deur ’n gistingsproses van die swam Gibberella zeae verkry word. Zeranol word egter vir sy anaboliese (weefsel-opbouende) eien­skappe in diere gebruik.
Zeranol werk indirek in op die liggaam deur middel van die endokrienekliere van die dier en stimuleer die vervaardiging van die groeihormoon.
Hoewel Zeranol self ’n plantaar­dige oorsprong het, toon dit verhoogde estrogeen-­aktiwiteite in diere.
Die toediening van Zeranol is verbode in Namibië, soos ook in die Europese Unie (EU) waarheen Meatco vleis uitvoer.
Meatco het in Maart vanjaar bekend gemaak dat een van die twee urienmonsters wat verlede jaar deur DVS by die voerkraal geneem is, positief vir Zeranol getoets het.
Dit duur vier maande vandat die toetse gedoen is, totdat die uitslae beskikbaar is. ’n Maand moet dan verloop voordat opvolgtoetse gedoen kan word, waarvan die uitslae ook eers weer vier maande later beskikbaar sal wees.
Meatco was in daardie stadium genoodsaak om die voerkraal vir sowat vyf weke te sluit, wat tot ’n verlies van N$14 miljoen gelei het.

Vlakke baie laag
Adv. Vekuii Rukoro, hoof uitvoerende beampte van Meatco, het gister by navraag bevestig dat baie lae vlakke van Zeranol in die urienmonster gevind is.
Volgens hom is dit self nóg laer as die vorige keer.
“Daar is geen wetenskaplike bewyse dat wanneer tekens van Zeronol in die urien van ’n dier waargeneem word, dit ook in die vleis teenwoordig is nie. Verder laat die EU, wat ons kliënt is, sulke lae vlakke toe wanneer dit in hulle voerkrale bespeur word, aangesien dit nie ’n gevaar vir menslike gebruik inhou nie.”
Dr. Milton Maseke, DVS se hoof-veeartsenybeampte, wou nie aan Republikein meer inligting oor die uitslag van die toetse verstrek nie. “Ek kan nie in hierdie stadium van die ondersoek enige kommentaar lewer nie,” het hy gesê.
Volgens Rukoro sal Meatco en dié direktoraat vandag vergader om die pad vorentoe te bespreek.
Meatco het reeds sowat N$500 miljoen belê in die uitbreiding van sy voerkraalkapasiteit – enersyds deur die Okapuka-voerkraal te vergroot terwyl nuwe voerkrale ook by Gobabis en Kombat opgerig gaan word.
Namibië se kommunale produsente produseer sowat 60% van alle speenkalwers in Namibië en gaan dus die hardste deur die sluiting geraak word.
’n Ontstelde mnr. Mecki Schneider, voorsitter van die Lewende­haweprodusente-organisasie (LPO), sê hy is gisteroggend deur ’n direksielid van Meatco oor die situasie ingelig. “Dit gaan hier oor die land se produsente en ons verwag dat daar baie vinnig ’n antwoord verskaf word. Hierdie is ’n landskrisis.
“Dit is belangrik om te weet of die Zeranol afkomstig is van voer waarin die fungus (swam) onbewustelik teenwoordig was en of dit doel­bewus toegedien is. Verder moet ons ook onthou dat vroulike en manlike hormone soos estrogeen en testosteroon natuurlik in alle beeste voorkom,” het Schneider gesê.
Mnr. Paul Strydom, hoofbestuurder van die Vleisraad, se kommentaar was dat die situasie “betreurenswaardig is” en dat die partye, gegewe die droogte en die verlies van die Suid-Afrikaanse mark, so gou as moontlik ’n oplossing moet vind.

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!