Nu00f3g 'n uitgeteerde leeu van kant gemaak
Nu00f3g 'n uitgeteerde leeu van kant gemaak

Nóg 'n uitgeteerde leeu van kant gemaak

Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme erken daar is nie genoeg prooi vir die roofdiere in die Kunenestreek nie.
Andrew Poolman
Francoise Steynberg – Meer as net die een uitgeteerde leeuwyfie in die Noordweste is deur die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme van kant gemaak.

Volgens die ministerie se woordvoerder, mnr. Romeo Muyunda, is nóg 'n leeuwyfie in Februarie by Bethanie in die Doro !Nawas-bewaringsgebied van kant gemaak.

“In albei gevalle was die leeuwyfies ouer as tien jaar oud, in baie swak ­kondisie en hulle kon nie meer prooidiere jag nie,” het hy gesê.

Die leeuwyfie met 'n nekband wat Sondag langs 'n bokkraal by Mbakondja geskiet is, “se gedrag was ongewoon en sy was al baie siek”.

Volgens die woordvoerder is weefsel­monsters van die leeu vir verdere ontleding geneem.

“Ongelukkig het ons geen keuse nie as om 'n leeu wat fisiek swak is en nie langer hulself kan onderhou nie, van kant te maak.”



'DIS NATUURLIK'

Muyunda beklemtoon dat “wat ons nou met die leeus in die Noordweste ervaar, veral diegene in swak ­kondisie, is natuurlik”.

Die gebrek aan prooi vir die leeus is die groot faktor. “Dit lei tot die hongersnood. Ouderdom of siektes maak leeus swak en hulle kan nie jag nie.”

Die woordvoerder sê gegewe die droogte in die gebied is dit natuurlik om te sien dat leeus van ­hongersnood vrek omdat daar nie prooi is om te jag nie.

“Dit lei weer tot verhoogde ­voorvalle van mens-leeu-konflik, waar leeus vee teiken wat maklik is om te jag.”

Muyunda verseker daar is reaksie­spanne in plek wat op konflik­situasies moet reageer. “Indien leeus gewoonte-­probleemdiere is, sal hulle van die gebied verwyder word.



REAKSIESPAN

Hy verseker die publiek, boere en ­gemeenskappe ook die ­leeusituasie in die gebied word voortdurend ­gemonitor.

“Ons het 'n reaksiespan op die grond wat met leeubewaring help en moont­like mens-leeu-konflik bestuur, veral die gebiede van De Riet en ­Mbakondja.”

Volgens die ministerie se verklaring is maatreëls ingestel om die huidige situasie te hanteer.

“Waar nodig sal die ministerie die leeus vir hul oorlewing na gebiede met genoeg prooi en goeie habitat ­verskuif. Die impak van leeus op mens-dier-konflik sal in ag geneem word,” verduidelik Muyunda.

Hy sê op 2 April is 'n jong leeumannetjie geskiet toe dit 'n boer se kraal in die Anabeb-bewaringsgebied ingegaan en 13 bokke, een hond en een hoender gevang het.

“Die leeu was in 'n goeie kondisie, moontlik omdat dit vee of beskik­bare wild gevreet het, maar dit is ­makliker vir leeus om vee te jag – 'n situasie wat weekliks in die Kunenestreek plaasvind.”



MOENIE LEEUS VOER

Die ministerie maan die publiek om nie die leeus te voer nie.

“Dit kan tot verdere mens-dier-­konflik lei en is teen ons bewaringsbeginsels, -etiek, wette en beleide,” sê die woordvoerder.

Hy sê die ministerie is genoop om die Leeubewaringbestuursplan te hersien en te ontwikkel om die beste lang termyn volhoubare bestuursopsies te bepaal oor hoe om leeus in die Kunenestreek en elders volgens die veranderde omgewing en klimaatstoestande te bewaar.

Volgens Muyunda het die ministerie 'n projek, gefinansier deur die Wildprodukte-trustfonds, van stapel gestuur om veilige veekrale in ­probleemgebiede op te rig “om soortgelyke probleme te vermy met leeus wat vee in krale vang”.



KLEINER PORSIES

Dr. Philip Stander van die Woestynleeu-navorsingsprojek het twee leeuwyfies se voedselinname vanaf Januarie tot April 2021 nagevors.

Hy het bevind tot 10 Maart was hul voedselinname 7 kg per leeu per dag.

Hul voedselinname vanaf 10 Maart tot 20 April het tot 4,1 kg per leeu per dag gedaal.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer