Nóg 'n woestynleeu glo vergiftig ná hy donkie byt

Eros was een van bitter min oorblywende leeumannetjies en was belangrik vir die bewaring van dié groep.
Eros, die laaste leeumannetjie van die Hoanibrivier naby Sesfontein, is vermoedelik vergiftig ná hy 'n donkie gevang het.

Hy is waarskynlik die vierde leeu in dié gebied wat die afgelope 18 maande met gif afgemaai is, het Desert Lion Human Relations Aid (DeLHRA) in 'n verklaring gesê.

Hoewel die naam van 'n verdagte in minstens een van die gevalle bekend is, is geen saak aanhangig gemaak nie en die voorvalle word nie formeel ondersoek nie, sê DeLHRA.

Die organisasie is “verbaas en teleur­gesteld” oor dié toedrag van sake.

Riglyne van die Konvensie op die Handel in Bedreigde Spesies (Cites), wat Namibië onderteken het, maak voorsiening vir spesiale beskerming van spesies soos leeus.

Dit bepaal sulke voorvalle moet ondersoek word en gepaste stappe moet hierteen gedoen word.

DeLHRA het in Oktober die mens-dier-konflikgebied in die omgewing van ­Sesfontein besoek en het verneem Eros word vermis.

Hulle het ondersoek ingestel en sy karkas in 'n bos suidwes van Sesfontein ontdek.

DeLHRA sê die bietjie van die karkas wat oorgebly het, het maanhare ingesluit, vandaar hul vermoede dat dit Eros is.

Aasdiere wat aan die karkas gevreet het, is in gevaar indien hy wel vergiftig is.

Sowat 40 m verder was duidelike tekens van vermoedelik giftige lokaas en merke van 'n valstrik. Die gemeenskapsveldwagter wat DeLHRA se aandag hierop gevestig het, het dit in die teenwoordigheid van die leeuwagter vir die Sesfontein-bewaringsgebied gedoen.

Volgens inligting het 'n leeumannetjie tydens die laaste week van September 'n donkie sowat vyf kilometer wes van Sesfontein naby die hoofpad gevang. ­Bestaansboere bly in dié omgewing. DeLHRA en die veldwagter weet wie die eienaar van die donkie is.



Waarskuwingstekens

Die vyfjarige Eros was die afgelope twee jaar by verskeie voorvalle van mens-dier-konflik in die Sesfontein-, Kanamub- en moontlik Tomakas-gebied betrokke.

DeLHRA het dringende formele en skrifte­like versoeke aan die ministerie van die omgewing en toerisme gerig en gevra dat hy 'n nekband kry sodat nieregeringsorganisasies (NGO's) sy bewegings kon monitor.

Maanhare kry gewoonlik nekbande wanneer hulle twee jaar oud is.

DeLHRA sê hulle is verbaas dat die leeuwagter van die Sesfontein-­bewaringsgebied oënskynlik onbewus van Eros se dood was en dit nie by die owerhede aangemeld het nie.

Die reaksiespan van die Northwestern Lion Working Group (NWLWG) is van die voorval ingelig en het Eros se skedel verwyder tydens 'n gesamentlike operasie met 'n NGO om leeus in die Hoanib­rivier met nekbande te voorsien.

Die jongste verslag van 'n NGO wat ­navorsing oor woestynleeus in die gebied doen, rep ook geen woord oor die voorval nie.

Sover hul kennis strek, moet ­inligting oor leeus wat doodgemaak is of gevrek het, binne 48 uur by die ministerie ­aangemeld word. Boonop is vergiftiging onwettig, sê DeLHRA.

Eros was een van bitter min oorblywende woestynleeumannetjies en was baie belangrik vir die bewaring van dié groep, sê DeLHRA.

Hulle wys daarop dat die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, op rekord is oor die vervolging van mense wat dié leeus uitwis.

Toe drie van die sogenaamde Vyf Musketiers in 2016 vergiftig is, het Shifeta gesê alles moontlik sal gedoen word om te verseker die skuldiges ry aan die pen.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!