Nóg regsge­dinge teen polisie, NDF

Eise om skadevergoeding van miljoene dollar is in onlangse tye deur burgerlikes ingedien ná beweerde geweld deur lede in uniform.
Yandi Du Plessis
Jana-Mari Smith



'n Namibiese burger wat beweer sy is tydens Operasie Hornkranz in April verlede jaar deur soldate aangerand, se hofsaak bevraagteken die wettigheid daarvan om die weermag saam met die polisie in vreedsame omstandighede te ontplooi.

Me. Luise Taakambadhala Mwanyangapo, 'n Namibiese werker in burgerlike samelewing en 'n Mandela Washington Fellow in 2018, het in Februarie vanjaar 'n siviele hofsaak teen die land se verdedigings- en polisieowerhede aanhangig gemaak en eis skadevergoeding van net meer as 'n halfmiljoen.

Dié eis is vir pyn en lyding, die algehele onregmatigheid van die aanranding en die koste van haar mediese behandeling, die verlies van waardevolle items tydens die aanranding en die koste van 'n verpaste vlug as gevolg van die aanval.

Haar siviele eis verwys na artikel 5 van die Verdedigingswet van 2002, wat volgens haar regspan as voorskrif dien vir die wettige ontplooiing van soldate om die polisie by te staan.

Hulle redeneer om soldate te ontplooi, is ongrondwetlik en teenstrydig met artikel 115 van die grondwet, wat die mobiliteit van die weermag beperk tot die verdediging van die grondgebied en nasionale belange, behalwe in die geval van 'n noodtoestand of nasionale verdediging, of ingeval 'n krygswet verklaar word.

In die hofdokumente word aangedui wetstoepassingsowerhede het artikel 5 van die verdedigingswet in werking gestel toe soldate ontplooi is om die polisie tydens Operasie Hornkranz by te staan, maar geen noodtoestand of ander redes het bestaan om soldate wettiglik te ontplooi nie.



WREEDHEID

Die insident het die hoofopskrifte in April 2019 gehaal nadat 'n groep soldate van Mwanyangapo se aanranding be­skuldig is. Hulle het haar glo, met die polisie as bystanders, met 'n sambok of 'n knuppel by Van Wyk's Bar in Katutura geslaan.

In haar hofdokumente word aangevoer sy het niks gedoen om die aanval uit te lok nie. In een stadium is sy geskop, wat haar op die grond laat val het, waarna die aanval voortgegaan het.

Toe sy probeer opstaan het, is sy met 'n sambok of knuppel geslaan, lui haar regsdokumente.

'n Foto van haar erg gekneusde gesig is destyds openbaar versprei en het die erns van haar beserings getoon.

In regsdokumente wat ná die aanval aan die polisie gestuur is, skryf haar regspan die polisie het “doodstil gestaan en geweier om tussenbeide te tree of die wrede, onwettige aanval te stop.”

As gevolg van die aanval is sy in die hospitaal opgeneem en behandel vir 'n diep sny op haar voorkop, 'n skaafplek op haar rug en kneusplekke oor haar neus en linkerskouer.



DODELIKE GEWELD

In November 2019 het die Regshulpsentrum (LAC) 'n verslag getiteld “Use of force by law enforcement officials in Namibia” uitgereik.

Die verslag erken wel gesamentlike polisie- en weermagoperasies is uit sommige oorde geloof, asook dat die polisie dikwels onder moeilike omstandighede moet werk, maar lê klem daarop dat dié gesamentlike operasies dikwels onder skoot kom weens verskeie klagtes van mishandeling aan die hand van die gewapende magte.

Tydens Operasie Kalahariwoestyn is twee bystanders dood nadat soldate dodelike geweld gebruik het. Beide die soldate is later in hegtenis geneem en moordsake is teen hulle aanhangig gemaak.

Die LAC het verder berig die oormatige gewelddade van regsamptenare is nie beperk tot dié twee operasies nie.

Tussen 2010 en middel 2016 is 118 skietvoorvalle aangemeld waarby polisieamptenare betrokke was. Die voorvalle is deur Nampol se interne ondersoekeenheid ondersoek.

Al hierdie sake het tot strafregtelike aanklagte gelei, waaronder 34 aanklagte van moord en 84 aanklagte van poging tot moord.

Volgens die verslag wys dit op 'n “endemiese probleem.”

Die verslag ondersoek verder die behoefte aan moontlike wetshervorming om te verseker die Namibiese veiligheidsmagte word deur internasionaal aanvaarbare standaarde voorgeskryf, veral ten opsigte van die gebruik van geweld.

Namibia Media Holdings het tot op hede berig oor meer as 'n dosyn siviele hofsake wat aanhangig gemaak is deur persone wat beweer hulle is die slagoffers van onnodige geweld tydens Operasie Hornkranz en Kalahariwoestyn.

Die sake, wat geopen is met die hulp van die LAC of die prokureur Norman Tjombe, het 'n totale bedrag van meer as N$5 miljoen in skadevergoedingseise tot gevolg gehad.

Me. Unomwinjo Katjipuka-Sibolile, van die Nixon Marcus Public Law Office, is Mwanyangapo se verteenwoordiger en mnr. Mathias Kashindi, 'n staatsprokureur, verteenwoordig die verweerders.

Die saak is verlede Vrydag na bemiddeling in die eerste week van September verwys en uitgestel tot 14 September voor hoërhofregter Herman Oosthuizen.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!