Nghitila veroordeel verslag oor natuurlike kapitaal
Nghitila veroordeel verslag oor natuurlike kapitaal

Nghitila veroordeel verslag oor natuurlike kapitaal

Die omgewingsministerie ontken ten sterkste die bewering dat Namibiese owerhede ’n aansienlike rol in die verwoesting van die omgewing speel.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg

Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het sterk kritiek teenoor ’n verslag oor die verwoesting van natuurlike hulpbronne in Namibië uitgespreek.

Die verslag van die Hanns Seidel-stigting en die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), getiteld Deleting Natural Capital: How Namibia has been losing wildlife, forests and sand through misgovernance and maladministration since 2015, is Donderdag bekend gestel.

Volgens die verslag is wildstropery, die onwettige oes van hout en sandmyne van die aspekte waarin Namibië besig is om sy stryd teen die verwoesting van sy natuurlike hulpbronne permanent te verloor. Die regering word beskuldig dat hy klaaglik in sy rol as bewaarder misluk.

Die ministerie het Donderdag in ’n mediaverklaring gesê hy weerlê die meerderheid van die inhoud en opinies van die verslag.

“Ongelukkig is die verslag deurspek van ’n gebrek aan navorsing en indiepte statistiese ontleding wat baie van die waarnemenings en voorstelle ongegrond, onakkuraat en misleidend maak,” skryf die uitvoerende direkteur, mnr. Teo Nghitila.

Hy sê dit is breedweg ongelukkig dat die IPPR en Hanns Seidel-stigting nie die ministerie geraadpleeg het toe die verslag opgestel is nie.

“Die ministerie ontken ten sterkste die bewering dat Namibiese owerhede ’n aansienlike rol in die verwoesting van natuurlike kapitaal deur wanoptrede of onbevoegdheid speel,” sê Nghitila.

“Die ministerie bly daartoe verbind om die gebruik van natuurlike hulpbronne vir die huidige en toekomstige geslagte Namibiërs te verseker.”

Hy sê rakende wildstropery is dit ooglopend dat die stropery van hoë waarde spesies ’n aansienlike afname sedert 2015-’16 toon.

“Ons is dankbaar om ’n afwaartse neiging tot dusver in 2020 te sien en dit word grootliks toegeskryf aan die toewyding en verskeie maatreëls in plek in die stryd teen wildmisdaad,” sê Nghitila.

Hy sê ook strenger strawwe en vonnisse vir wildmisdadigers is ingestel en verskeie wette is besig om geïmplementeer te word.

Die feit dat die ministerie gereeld meer inhegtenisnemings en vervolgings van wildmisdaad aanmeld, sê Nghitila, dui op verbeterde intelligensie, voorkoming van stropery en suksesse in die stryd teen wildmisdaad.

“Dit is ook onwaar dat die nasionale strategie oor Wildbeskerming en wetstoepassing nie aanvaar is nie. Die ministerie is tans besig om dit vir 2015 tot 2020 te implementeer en konsultasies vir die hersiene strategie vir 2021 tot 2026 is reeds voltooi en aan die kabinet vir goedkeuring voorgelê,” sê Nghitila.

Wat sandmyne betref, sê hy dit is ’n uitdaging wat die land reeds dekades in die gesig staar, maar dit is deur die implementering van die omgewingswet dat die ministerie aandag op dié kwessie gevestig en dit getakel het.

“Die ministerie het alle onwettige sandmynbedrywighede gestop en talle oortreders is aan die kaak gestel. Tans vind geen onwettige sandmynbedrywighede plaas nie,” het Nghitila beklemtoon.

Hy sê die ministerie reik nou slegs omgewingsklaringsertifikate vir sandmyne deur tradisionele en plaaslike owerhede en streeksrade uit.

Rakende onwettige en ongereguleerde houtkappery is “maatreëls in plek vir die opskort van die oes, vervoer, bemarking en uitvoer van houtoeste sedert 26 November 2018”.

Nghitila sê die uitreik van vervoerpermitte vir hout wat reeds geoes is, word toegelaat, maar slegs as dit vir die plaaslike mark bestem is.

“Geen uitvoerpermitte word vir ongeprosesseerde hout uitgereik nie. Die bewering dat Namibië ’n deurgangsroete vir die onwettige oorgrenshandel in Afrikahout is, is onregverdig en onwaar,” beklemtoon Nghitila.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!