NGV ‘gaan mediese fondse se premies óók laat styg’
Volgens ’n kenner gaan die private mediese skemas net aanvullende dekking bied.
William Horne
Mediese fondse se premies gaan waarskynlik die hoogte inskiet weens Nasionale Gesondheidsversekering (NGV).
Dr. Johann Serfontein, lid van die Vryemarkstigting se navorsingseenheid oor gesondheidsorgbeleid, meen mediese fondse sal bly voortbestaan ná die inwerkingstelling van die NGV, maar lede sal uiteindelik dubbeld en dwars betaal.
Hy het Donderdag die risiko’s van die NGV uiteengesit op ’n mediakonferensie by die Instituut van Rasseverhoudinge (IRV) in Auckland Park, Johannesburg.
Serfontein sê die wetsontwerp se mikpunt is dat private mediese skemas net aanvullende dekking bied vir dienste wat die NGV nie wil of kan bekostig nie.
Dit is hoe dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, dit self verduidelik het met die bekendstelling van die NGV-wetsontwerp.
Dit sal mediese fondse tot ’n vorm van “gapingsdekking” verminder. Die dienste waarvoor dit betaal, kan egter betreklik omvattend wees, na gelang van die mandjie dienste wat uitgesluit word uit die NGV.
NGV-AKKREDITASIE
Verskeie belanghebbendes in die private sektor het egter die afgelope week ’n skuiwergat in die wetsontwerp uitgelig wat dit vir mense moontlik sou maak om heeltemal buite die NGV-stelsel te bly, en self of deur middel van ’n mediese fonds vir hul gesondheidsorg te betaal.
Sowel Mediclinic as die Suid-Afrikaanse Privatepraktisynsforum, wat duisende private dokters en spesialiste verteenwoordig, het daarop gewys dat die wetsontwerp voorsiening maak dat mense wat nie NGV-prosedures volg nie, geregtig sal wees om self of deur “mediese versekering” vir gesondheidsorg te betaal.
Daarby is dit duidelik dat nie alle medici gedwing sal word om NGV-akkreditasie te vra nie, en ook nie gewaarborg is dat hulle dit sal kry nie.
Belastingbetalers sal egter nie die keuse hê om nié tot die NGV self by te dra nie, aangesien voorsiening gemaak word dat inkomstebelasting uiteindelik verhoog gaan word om daarvoor te betaal.
Aangesien baie Suid-Afrikaners dit nie sal kan bekostig om groot verhogings in hul belastinglas te absorbeer én vir private mediese dekking te betaal nie, sal die getal lede van mediese fondse daal. Dit sal meebring dat premies skerp sal móét styg, volgens Serfontein.
AANVULLENDE DIENSTE
Selfs indien die skuiwergat uit die weg geruim word en mediese fondse net vir aanvullende dienste mag betaal wat die NGV nie dek nie, sal mediesefondspremies styg. Dié aanvullende dienste sal waarskynlik meer gevorderde en dus duurder dienste wees.
“Private mediese fondse sal ’n baie duur luukse word,” sê Serfontein.
Kleiner fondse sal nie onder sulke omstandighede kan oorleef nie, en die bedryf sal dus konsolideer.
Klein mediese fondse is reeds onder druk en daar is reeds groot kommer in die bedryf dat die oorheersing van groot oop en geslote mediese skemas soos Gems en Discovery Health Medical Scheme mededinging beperk.
Mediese fondse sukkel met ’n ledetal wat al hoe ouer en sieker word omdat minder jong en gesonde mense weens die koste daarvan aansluit, of net basiese hospitaalplanne kry.
Serfontein sê die huidige skuiwergate het ontstaan met die hersiening van vorige teenstrydige klousules. Dit was nooit die bedoeling om vir Suid-Afrikaners die geleentheid te skep om private mediese fondse vir enigiets anders as aanvullende dienste te gebruik nie.
POLITIEKE MOTIVERING
Dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing van die IRV, sê die skuiwergat is teenstrydig met die eintlike politieke motivering van die NGV.
Indien die skuiwergat nie hersien word nie, sal Suid-Afrikaners volgens Serfontein en Jeffery moet kies tussen twee opsies: Hulle sal ten duurste moet betaal vir die private fondse wat hulle reeds gebruik terwyl hul belastinglas ook styg, of hulle sal die NGV se dienste moet benut, wat geweldig beperk sal word deur ’n ongelooflike tekort aan geld en uiters onvoldoende openbare infrastruktuur.
Serfontein sê die probleem is nie die idee van universele gesondheidsorg nie. Die NGV soos hy nou daar uitsien, kan rampspoedig wees, maar daar is talle ander maniere om toegang tot universele gesondheidsorg te verseker.
Die wetsontwerp, wat verlede Donderdag bekend gestel is, gaan nou in die parlement en in openbare sittings bespreek word voordat dit in werking gestel word.
Daar word voorsien dat NGV in fases in werking gestel gaan word. Eers in die laaste fase word die rol van mediese fondse verander en word bykomende inkomstebelasting in die vooruitsig gestel. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie