NHE finansieel nog stabiel
NHE finansieel nog stabiel

NHE finansieel nog stabiel

Die Nasionale Behuisings­onderneming sukkel om gedienste erwe te bekom om huise te kan bou.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die Nasionale Behuisingsonderneming (NHE) is nie bankrot nie, daar is geen sprake van afdankings of salarisbesnoeiings nie, en dit sal beslis nie in 'n tweede Air Namibia ontaard nie, volgens NHE se raadsvoorsitter, mnr. Sam Shivute.

Sy boodskap aan NHE se werknemers is: “Julle is nie in gevaar van likwidasie nie.”

Volgens Shivute het dié onderneming sedert die raad en uitvoerende hoof, mnr. Gisbertus Mukulu, se aanstelling in 2015 skuld vanaf N$533,8 miljoen tot N$149,4 miljoen verminder.

NHE se oortrokke rekeningfasiliteit word maandeliks met N$2 miljoen verminder en staan tans op N$29 miljoen, sê hy.

Shivute sê die onderneming se leningsboek is N$2 miljard werd en die totale laste minder as 22% van NHE se bates. “NHE hardloop nie na die regering om salarisse te kan betaal nie,” sê Shivute.

Shivute het Dinsdag in 'n nuus­vrystelling verwys na onlangse nuus­berigte wat beweerde wanbestuur en onbevoegdheid as redes aanvoer hoekom die onderneming so min huise bou en nie aan sy mandaat voldoen nie. Die onderneming het beoog om 1 250 huise per jaar te bou, maar kon weens beperkte hulpbronne net 338 huise in die afgelope jaar lewer, erken hy.

Hy neem volle verantwoordelikheid vir dié agterstand.

“'n Mens kan nie 'n huis in die lug bou nie,” sê hy en brei uit dat die vertraging in die lewering van bekostigbare huise grootliks weens 'n tekort aan gedienste erwe is.

Waar grond beskikbaar is, sal NHE huise bou, volgens die voorsitter.

Mukulu noem voorbeelde in Katima Mulilo waar 540 huise gebou word, 170 op Nkurenkuru en 70 op Okahao.

“Ons is ook in die proses om grond in Windhoek te verkry,” sê hy. Ander projekte op die lys sluit in Keetmanshoop, Omuthiya, Karibib, Outapi en Okakarara.

Klagtes in die sosiale media en op 1 April en weer op 9 April aan die media het daarop aangedring dat Mukulu uit sy pos verwyder word.

Daarteenoor het Shivute die week aangekondig die raad is tevrede met die uitvoerende hoof se prestasies en het op 18 Maart goedkeuring vanaf die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, mnr. Erastus Uutoni, ontvang om Mukulu se kontrak vir nog vyf jaar te verleng.

Shivute het ook die beweringe van konflik van belange teen homself en mederaadslid, mnr. Oscar Capelao, verwerp.

As die hoof van 'n nuut gestigde Namibiese Inkomste-agentskap (NamRA), sê Shivute daar kan geen konflik wees nie, omdat NHE in terme van sy stigtingswetgewing nie belasting betaal nie.

Wat Capelao betref, is hy reeds voor sy aanstelling as NHE-raadslid die hoof finansiële beampte van FNB Namibia, sê Shivute, en dat FNB nie met NHE meeding nie, omdat hulle verskillende dele van die mark bedien.

Capelao het tydens Dinsdag se vergadering uitgebrei oor die struikelblokke wat die regering se massabehuisingsprojek vir NHE se boekhouding inhou.

Die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling moet nog sekerheid gee oor die eienaarskap van verbande vir huise wat onder die omstrede projek gebou word.

Intussen het die oudits van boekjare 2016-'17, 2017-'18 en 2018-'19 reeds begin. Volgens Shivute sal die eerste oudit vir die boekjaar 2019-'20 teen Augustus begin.

Die ontevredenheid tussen werknemers het volgens Shivute op middelbestuursvlak ontstaan, maar dit is nie waar dat werknemers hul ondersteuning van die topbestuur onttrek het nie.

Hy sê dit is 'n paar individue wat beter poste soek óf ongelukkig is oor die opskorting van bykomende finansiële beloning (14de tjek), óf vir NHE wil saboteer vir persoonlike redes.

“Daar is 'n groot vrees wat bestuur moet word,” sê hy.

“Mense is bang ná Air Namibia se likwidasie.”

[email protected]


FOTO
Die raadsvoorsitter van NHE, mnr. Sam Shivute (links), het bevestig die onderneming se uitvoerende hoof, mnr. Gisbertus Mukulu, se werkskontrak is hernu. Foto Augetto Graig

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!