Nida skarrel rond vir geld
Nida skarrel rond vir geld

Nida skarrel rond vir geld

Indien Nida nie teen volgende Maandag September se bydraes aan NHP oorbetaal het nie, sal dié SOE se werknemers en afgetrede pensioenarisse opnuut sonder ‘n mediese fonds gestrand wees.
Sanet de Waal
Jo-Maré Duddy – Sowat 270 werknemers en pensioenarisse verbonde aan die agentskap vir nywerheidsontwikkeling in Namibië (Nida) hou hul asems op om te sien of dié onderneming in staatsbeheer (SOE) binne die volgende sewe dae genoeg geld bymekaar kan skraap om hul mediesefondsdekking te verseker.

Nida se mediesefondsdekking is op 1 September deur Namibia Health Plan (NHP) opgeskort omdat dié SOE se bydraes twee maande agterstallig was. Ná Nida verlede week Augustus se bydraes kon oorbetaal, het NHP die opskorting opgehef – maar net tot 20 September. Indien Nida nie teen volgende Maandag September se bydraes aan NHP oorbetaal het nie, sal dié SOE se werknemers en afgetrede pensioenarisse opnuut sonder ‘n mediese fonds gestrand wees.

Mnr. Wessel !Nanuseb, Nida se senior bestuurder van korporatiewe dienste en menslike hulpbronne, het die SOE se “kontantvloei-uitdagings” aan Republikein bevestig. Nida probeer dit as ‘n saak van dringendheid regstel, het hy gesê.

!Nanuseb het die “ongelukkige stand van sake” aan die impak van die Covid-19-pandemie toegeskryf sonder om daarop uit te brei.

Volgens hom is Nida besig om met die diensverskaffer te praat oor hoe om die agterstallige bydraes te vereffen. Nida werk voorts aan maniere om hulpbronne van verskeie belanghebbers te mobiliseer om sy finansiële situasie te beredder.

“Die terugvoering is positief,” aldus !Nanuseb.

Nida is nie agterstallig met die maandelikse oorbetaling van werknemers se pensioenfondsbydraes nie, het hy gesê.

Die agentskap onderhandel wel met die ontvanger van inkomste om vas te stel hoeveel persoonlike inkomstebelasting (PAYE) agterstallig is sodat die “nodige planne” beraam kan word, volgens !Nanuseb.

DOOIEMANSDEUR

Nida is in 2018 gestig en inkorporeer die voormalige Namibia Development Corporation (NDC) en Offshore Development Corporation (ODC). Dit resorteer onder die ministerie van nywerheid en handel.

Republikein het Donderdag ‘n rits vrae aan die minister van nywerheidsontwikkeling en handel, me. Lucia Iipumbu, haar adjunk en die uitvoerende direkteur van dié ministerie gestuur. Dieselfde vrae is aan Nida se uitvoerende hoof, mnr. Mike Gaomab, en die voorsitter van Nida se direksie, mnr. Lionel Matthews, asook aan die ministerie van finansies gestuur.

Republikein wou weet presies hoeveel geld Nida skuld, hoekom dit nie beskikbaar is nie, of die SOE aanspreeklikheid vir die gebrek aan dekking gaan aanvaar en watter versekering werknemers en afgetrede werknemers het dat hul voordele gewaarborg is.

Geen antwoorde is ontvang nie.

Al wat Matthews bereid was om te sê, is dat Nida Vrydag ‘n raadsvergadering gehad het om die SOE se sake te bespreek.

BEGROTING

Enige poging om vas te stel waar die bottelnek met begrotingsgeld is, was onsuksesvol. Die woordvoerder van die ministerie van finansies, mnr. Tonateni Shidhudhu, wou nie sê of die ministerie die geld oorbetaal het en, indien wel, of dit aan die ministerie van handel en nywerheid of Nida self oorbetaal is nie.

Die ministerie het ‘n deursigtige beleid met kantore, ministeries en agentskappe rakende begrotingstoekennings, het hy gesê.

“Die rekenkundige beamptes van die onderskeie ministeries is goed ingelig en behoort in staat te wees om alle navrae oor hul begrotingsposte te beantwoord,” het hy bygevoeg.

Die ministerie van nywerheidontwikkeling en handel het Republikein se navrae geïgnoreer.

Volgens die 2021-’22-begroting is sowat N$64,4 miljoen vir dié ministerie se totale personeelkoste vir die huidige boekjaar begroot. Dit sluit mediesefondsvoordele in.

Nida se begroting word nie in die dokument uiteengesit nie. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!