Nie eens Metusalag beskore
Nie eens Metusalag beskore

Nie eens Metusalag beskore

Catherine Sasman
Die datum het amper ongesiens by baie van ons verbygegaan.

Dis nou die afgelope Sondag: die tweede van die tweede maand in 2020.

Oftewel 02/02/2020. As iemand my nie vertel het nie, sou ek ook nie geweet het dit was ’n eens in baie leeftye-tipe dag nie.

Dit was dié palindroomdag!

Ten minste die enigste vir die meeste van ons of ons álmal se leeftyd, of leeftye, selfs met reïnkarnasie in ag genome. Dit was ’n uitsonderlike dag volgens alle aanduidings.

’n Palindroomdag is wanneer die datum vorentoe en agtertoe dieselfde geskryf word.

Die eerste keer wat dit gebeur het, was op 01/01/1010 – ongeveer 1010 jaar gelede! Die volgende was op 11/11/1111. Die volgende een is op 12/12/2121, en dan weer glo op 03/03/3030.

Dié dag was blykbaar nóg meer spesiaal omdat Sondag die 33ste dag van die jaar was met nóg 333 dae oor vir hierdie jaar! Ek hoor 33 is ’n getal wat beteken alles is moontlik.

Heel prettige feite, of hoe? Want sien, só skaars is hierdie dag en hierdie jaar dat, teoreties gesproke, baie jong kinders van vandag die volgende palindroomdag mag oorleef – op 101 en ouer ouderdomme, natuurlik. Behoede my, bygesê!

Nie eens ou Metusalag het ’n palindroomdag twee keer ervaar nie. Soos almal seker kan onthou, was Metusalag ’n aartsvader en -figuur in Judaïsme, Christendom en Islam, en het op die oorrype ouderdom van 969 gesterf. Hy word beskou as die figuur wat die langste geleef het van almal wat in die Bybel genoem word.

Ek moet sê Namibiërs het nie veel ag geslaan op dié uitsonderlike datum nie. Ons is mense wat nie sommer opgewonde raak oor foefies en fiemies nie. Ons is nie regtig guitige mense nie.

Ons hou gewoonlik dinge in ewewig.

So byvoorbeeld het nie eens die gewese glanspaar Angelina Jolie en Brad Pitt se celebrity-geboorte van hul eerste biologiese kind in ons woestyn veel van ’n rimpeleffek gehad nie – behalwe natuurlik vir Marlene Mungunda (onthou julle haar nog?) se vreemde Oye-dans op Swakopmund toe die ou dingetjie aan die plaaslike publiek voorgestel is.

Ek dink nie eens die wederopstand van Elvis Presley sal veel van ’n indruk hier maak nie, behalwe moontlik vir ’n paar hardnekkige aanhangers wat miskien genoeg inisiatief sal toon en ’n flenterkonsert op ’n warm Saterdagmiddag in ’n stadsaal sal hou om te sien wie die meeste soos Elvis kan lyk en klink. En daarná, soos gewoonlik, sal dit oor en uit wees. Klaar gelag en klaar gedoen!

Om terug te keer na die palindroomverskynsel. Elders is dit beskou as ’n baie spesiale dag wat met groot bohaai gevier is. Elders het kerke oorstroom met verskeie troues, miljoene het saamgedrom vir spesiale sportgeleenthede, daar was groot trompetgeskal deur strate, die dobbelaars en skelms het hul weddenskappe op hierdie datum verskans, die esoteriese het voorspellings gemaak, nuwe woorde en frases is opgedis om die dag nog méér te vier.

Hoewel ons nie saam met die wêreld makiete gehou het oor al die nommers en goeters nie, kom ons hoop die res van die jaar sal een van groot moontlikhede wees!

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer