Nie elke Kretie en Pletie weet du00edt van Israel
Nie elke Kretie en Pletie weet du00edt van Israel

Nie elke Kretie en Pletie weet dít van Israel

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - As reisvraat lê Israel nie besonder hoog op my kluitklaplys nie.

Ek sal eerder met die antieke syroete langs wil toer en tyd verwyl in ’n eksotiese stad soos Samarkand in Oesbekistan.

Miskien is dit omdat die wêreld in my vroegste kinderherinneringe uit net twee plekke bestaan het: die plaas waar ek grootgeword het en Israel, die land in die prentjiebybel waaruit daar saans vir ons stories voorgelees is.

My onderbewuste maak my waarskynlik wys ek het nie nodig om Israel te besoek nie, want ek ken dit reeds.

Toe nie, besef ek ná ek nou die middag ’n lang telefoniese onderhoud met Windhoekers op besoek aan Tel Aviv voer.

Geprikkel deur hul vertellings, lê ek daardie aand en googleloer op my foon na al wat interessante feit is. Baie daarvan onbekend aan die Kretie en Pletie soos ek.

Israel is die land met die meeste Nobelpryse per capita. Dit is ook die land met die meeste museums per capita in die wêreld.

Die Jode is ’n slim en weetgierige volkie, want die tweede meeste boeke per aantal mense in die bevolking word ook daar uitgegee. Die meeste skaakmeesters op een plek saamgetrek woon in Beersheba. . . (En nee, hul skaakvernuf het niks met bier te make nie.)

Verder leef hulle ook langer as die meeste ander nasies en die gemiddelde lewensverwagting is 82 jaar.

Dié landjie, wat omtrent so groot soos die Kruger-wildtuin is, absorbeer ook relatief tot sy bevolking die meeste immigrante. Die afgelope 60 jaar het hy 350% van sy eie bevolking in vreemdelinggetalle bygekry.

Nóg interessante feite is dat die Israeliese banknote brailleskrif bevat en die gom op hul posseëls kosjer is.

Die grootste hondebegraafplaas uit die antieke tyd is by Ashkelon ontdek en die Olyfberg by Jerusalem beskik oor die oudste begraafplaas wat steeds in gebruik is.

Kom dit by tegnologie, roem die Israeli’s hulle op ’n rits eerstes: die eerste selfoon is daar ontwikkel, stempostegnologie het daar sy ontstaan gehad en entrepreneur Dov Moran is die immer handige USB-geheuestokkie se pa. Die eerste sagteware teen rekenaarvirusse is ook so vroeg soos 1979 daar ontwikkel.

Israel was die eerste land wat die gebruik van ondergewig modelle verbied het en die wêreldberoemde seksterapeut Dr. Ruth was eens op ’n tyd ’n skerpskutter in die Israeliese weermag. Die Dooiesee is op 430,5 m onder seevlak die laagste plek op aarde. Israel is ook die enigste land wat ’n ongesproke antieke taal (Hebreeus) laat herleef en dit die amptelike taal gemaak het.

Dié land se nasionale redery, El Al, hou die wêreldrekord vir die meeste passasiers ooit op ’n kommersiële vlug – ’n allemintige leërskare van 1 088 mense.

En hoor hierdie een: Joodse koeie lewer, naas die koeie in Suid-Korea, die meeste melk.

Israel is ook die land met die hoogste voëlverkeer per vierkante kilometer en meer as 500 miljoen migrerende voëls vlieg jaarliks deur dié lugruim.

Ná 15 jaar se ontwikkeling is die Israeliese uitvinder Rafi Yoeli tans besig om die wêreld se eerste vlieënde kar te bou. Dit sal na verwagting in 2020 op die mark wees.

En laaste, maar nie die minste nie, bevat baie kontrakte van huureiendomme in Jerusalem ’n klousule wat bepaal dat wanneer die Messias kom, die huur opgeskort word en hulle moet skoert.

Geen geringe land nie – nie in die antieke tye nie en ook nie vandag nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!